Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-psigiater woon Nobel-byeenkoms by
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 14/06/2018

Dr Eileen Thomas (35), 'n doktorsgraadstudent in die Departement Psigiatrie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is gekies om die 68ste Nobelpryswennersbyeenkoms by te woon.

Sy is een van net ses jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes – almal vroue – wat hierdie eer te beurt geval het. Die geleentheid vind van 24 tot 29 Junie in Lindau, Duitsland, plaas.

Deelnemers van 84 verskillende lande sal tydens die ses dae lange byeenkoms die geleentheid gebied word vir interaksie met 43 Nobelpryswenners in fisiologie en geneeskunde. Onder hulle is die wenners van verlede jaar se Nobelprys in Fisiologie en Geneeskunde, Jeffrey C. Hall, Michael Rosbash en Michael W. Young, wat vereer is vir hulle ontdekking van molekulêre megnismes wat die sirkadiese ritme beheer.

Net nagenoeg 600 wetenskaplikes jonger as 35 word jaarliks wêreldwyd hiervoor gekies. Thomas het aansoek gedoen nadat sy deur die Wetenskapakademie van Suid-Afrika genomineer is.

“Ek beskou myself as 'n klinikus-navorser en kan getuig hoe ervaring in die een veld die ander versterk," sê Thomas, wat haar mediese studie aan die Universiteit van Pretoria voltooi het. “Gedurende my gemeenskapsdiensjaar by die Worcester-hospitaal het ek verlief geraak op die mooie Kaap en aansoek gedoen om in die Departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch te spesialiseer."

Sy het in 2015 gegradueer en sedertdien verdeel sy haar tyd tussen kliniese werk (sy het twee psigiatriese praktyke), 'n vrywillige vrouegesondheidskliniek by Tygerberg-hospitaal waar sy saam met twee ginekologie-kollegas op vroue met chroniese pelvispyn fokus, en navorsing. In haar tydperk as kliniese assistent het die Departement Psigiatrie uitstekende geleenthede aan haar beskikbaar gestel om meer van navorsing te leer, sê Thomas, wat ook lid is van die SARChi-navorsingseenheid in posttraumatiese stresversteuring onder leiding van prof Soraya Seedat.

“My navorsingsbelangstelling is redelik in lyn met my kliniese belangstellings. My PhD-projek ondersoek biomerkers wat vroegtydig posttraumatiese stres kan identifiseer. Verder lê vrouegesondheid, traumatologie, chroniese pyn en angsversteurings my na aan die hart."

Sy is baie dankbaar vir die Nobel-geleentheid, veral as 'n vroulike navorser uit Suid-Afrika, sê Thomas. “Ek sien baie uit na die lesings, besprekings, en middagete met vorige Nobel-pryswenners en om ander jong navorsers te ontmoet, idees uit te ruil en netwerke op te stel."

Haar ander prestasies sluit in onderskeidelik die Discovery Stigting-beurs verlede jaar en die SAMA-studiebeurs vanjaar vir haar PhD-studie.

Sy voorsien dat sy altyd haar tyd tussen kliniese sorg en navorsing sal verdeel en wil graag haar eie “pienk" laboratorium begin waar jong vroulike navorsers ondersteun en gekoester kan word.

Thomas trou in September vanjaar met haar Amerikaanse liefde, Andy Vuong, wat sy haar grootste ondersteuner noem.