Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-wetenskaplikes ding mee om gesogte NWTF/South32-toekennings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/06/2018

Soos in vorige jare, sal die Universiteit Stellenbosch (US) vanjaar goed verteenwoordig wees by die 2017/2018 Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NWTF)/South32-toekennings. Met ses navorsers onder die finaliste, staan die US 'n goeie kans op sukses.

Die jaarlikse NWTF/South32-toekennings erken, vier en beloon uitnemendheid in Wetenskap, Ingenieurswese, Tegnologie (WET) en Innovasie in Suid-Afrika. Hierdie is die grootste, en mees prestigeryke en gesogte nasionale WET en innovasie toekennings in die land.

Die wenners sal word op Donderdag 28 Junie by 'n gala-geleentheid by Emperors Palace in Kempton Park aangekondig waartydens me Mmamoloko Kubayi-Ngubane, Minister van Wetenskap en Tegnologie, en amptelike beskermheer van die NWTF/South32-toekennings, die pryse sal oorhanding.

Volgens die organiseerders is dit 'n besondere eer om 'n finalis te wees gegewe die gehalte van die nominasies wat elke jaar ontvang word, die strawwe kompetisie onder genomineerdes, en die groeiende belangstelling oor die jare.

Die US-finaliste en die kategorieë waarin hulle genomineer is, is soos volg:

Dr Thorsten Becker (Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese)

  • TW Kambule-NWTF-toekenning vir opkomende navorsers wat vir 'n tydperk van tot ses jaar tot navorsing en navorsingsuitsette bygedra het.

Prof Resia Pretorius (Departement Fisiologiese Wetenskappe)

  • TW Kambule-NWTF-toekenning vir navorsers wat vir 'n tydperk van tot ses jaar tot navorsing en navorsingsuitsette daarvan bygedra het.

Prof Cang Hui (Departement Wiskundige Wetenskappe)

  • TW Kambule-NWTF-toekenning vir navorsers wat ​​​vir 'n tydperk van tot ses jaar tot navorsing en navorsingsuitsette daarvan bygedra het.

Prof Coenrad Fourie (Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese)

  • Innovasietoekenning (Klein, Medium en Mikro-Ondernemings) vir innovasies en navorsing en/of ontwikkeling deur spanne, individue of organisasies.

Prof Brian van Wilgen (Departement Plant- en Dierkunde)

  • NWTF-GreenMatter-toekenning vir bydraes tot die bewaring van biodiversiteit, omgewingsvolhoubaarheid en 'n groener ekonomie.

Dr Willem Botes (Departement Genetika)

  • Innovasietoekenning (Korporatiewe organisasie) vir innovasies en navorsing en/of ontwikkeling deur spanne, individue of organisasies.