Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nolene Singh ontvang toekenning vir innovasiebestuur
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 01/06/2018

ʼn Personeellid van die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (31 Mei 2018) nasionale erkenning ontvang vir haar bydrae tot innovasiebestuur in Suider-Afrika.

Nolene Singh, ʼn tegnologie-oordragbestuurder by die US se tegnologie-oordrag maatskappy Innovus, is met die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) en die Southern African Research and Innovation Association (SARIMA) se Prestige Toekenning vir Vroeë Loopbaan Uitnemendheid in Innovasiebestuur vereer. Dié toekenning vereer individue wat vir minder as vyf jaar in Navorsing- of Innovasiebestuur werksaam is.

Die DWT/SARIMA-toekennings gaan aan individue wat `n impak gemaak het op die ontwikkeling van Navorsings- en Innovasiebestuur in 2017.

Singh is beloon vir haar belangrike bydrae tot die ontwikkeling van ʼn kultuur van innovasie en entrepreneurskap by die US sowel as die skep van groter bewustheid rakende tegnologie-oordrag en innovasie onder verskillende belanghebbers.

In 2017 was sy verantwoordelik vir die bestuur en kommersialisering van verskeie US-projekte deur middel van patentering, lisensiëring en die vorming van afwentelmaatskappye. Singh het US-tegnologie bemark en gehelp om samewerking te bewerkstellig met belangrike rolspelers in industrie soos Siemens Healthcare, BSG Pharm en Afriplex.

In reaksie op haar toekenning, het Singh gesê sy was oorstelp en opgewonde om dit te ontvang. “Dit is ʼn groot eer en ek is dankbaar teenoor Anita omdat sy my genomineer het."

Sy het byvoeg dat dit belangrik is om hard te werk en nooit op te gee in die najaag van jou drome nie.

As bestuurder van een van die US se mees belangrike kommersialiseringsbronne, die US TIA Saadfonds, is Singh aktief betrokke by US-afwentelmaatskappye SharkSafe, Katleho Biomedicals en Cargo Telematics en het sy gehelp om twee projekte, Sporatec and Conc, te bring tot ʼn punt waar hulle nou gereed is om af te wentel.

Sy het sterk bande met navorsers, industrie en befondsers gesmee en goeie praktyke binne Innovus gevestig om hierdie verhoudinge in stand te hou. Verder het sy pro-aktief waardetoevoegende verhoudinge met beleggers, industrie, entrepreneurs, studente en akademici gevestig.

Anita Nel, Senior Direkteur: Innovasie en Besigheidsontwikkeling aan die US, het Singh gelukgewens met haar prestasie en gesê haar werk in tegnologie-oordrag is van hoogstaande gehalte.

“Sy verdien hierdie toekenning dubbel en dwars as erkenning vir die ongelooflike bydrae was sy lewer tot tegnologie-oordrag en innovasie by die US en buite die instelling. Dit is ʼn besondere eer vir haar en ook ʼn sterk aansporing vir die res van die Innovus-span."

MEER OOR SARIMA

Die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuur-vereniging is ʼn belange-organisasie wat in 2002 gestig is en sedertien ʼn platform bied vir die bevordering en fasilitering van beste praktyke in navorsings- en innovasiebestuur in Suider-Afrika. Dit versterk die navorsings- en innovasiestelsel om die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van die Suider-Afrikaanse streek te verseker. Besoek www.sarima.co.za vir meer inligting