Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorgraadse diploma in volhoubare ontwikkeling
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 28/05/2018

'n Nuwe diploma in volhoubare ontwikkeling is daarop gemik om een van ons grootste uitdagings die hoof te bied: die skep van 'n nuwe generasie verantwoordelike entrepreneurs wat die wêreld waarin ons woon verstaan én wat oor die vaardighede en waardes beskik wat benodig word vir optrede in 'n komplekse wêreld.

Die nuwe program – die heel eerste voorgraadse program in volhoubare ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch – het in Januarie vanjaar afgeskop en word deur die Skool vir Publieke Leierskap in samewerking met die Volhoubaarheidsinstituut aangebied.

“Daar sal toenemend geleenthede spruit uit die behoefte om beduidende beleggings te maak in die herstel van die toekoms. Dit blyk uit die feit dat beleggings in hernubare energie reeds sedert 2009 beleggings in fossielbrandstof jaarliks oortref," het mnr Phumlani Nkontwana, koördineerder van die diplomaprogram gesê.

“Daar is dus 'n groter behoefte as ooit tevore om bekwame jong mense vir 'n toekoms voor te berei wat op hul eie vermoё berus om oor sektore heen te inspireer, netwerke te bou, te skep en doeltreffend te organiseer."

Volgens Nkontwana is die diplomaprogram werkplekgeoriёnteerd en is dit geanker in 'n volwasse, sosiaalgeïntegreerde en ekologies ontwerpte gemeenskap. “Om bekwame jong mense wat die werkplek betree in staat te stel om nie net van ander afhanklik te wees om geleenthede vir hulle te skep nie, word studente aan 'n groot verskeidenheid sosiale ondernemings in die boerdery-, energie-, kunsvlyt-, onderwys-, toerisme- en diensverskaffingsektore blootgestel." Studente speel ook 'n integrale rol om met die verdere ontwikkeling van die program te help.

Van die meer as 100 aansoeke wat ontvang is, is 33 studente gekies en het 24 uiteindelik vir die program ingeskryf.

Die 2018-klas bestaan hoofsaaklik uit vroue en die studente se ouderdomme wissel van 18 tot 25. Hoewel die meerderheid van die studente van die Wes-Kaap en Gauteng is, kom studente van regoor die land.

Meer as 50% van die studente het óf 'n oorbruggingsjaar geneem óf van kursus verander en was op soek na 'n soortgelyke interdissiplinêre program voordat hulle by die diplomaprogram aangesluit het. Uit hul terugvoer blyk dit dat studente die blootstelling aan 'n verskeidenheid van velde en bedrywe as waardevol beskou, en dat hulle die praktiese komponent van die program geniet.

  • Vir verdere inligting oor die program, kliek hier.
  • Foto's verskaf deur die Volhoubaarheidsinstituut. Hooffoto: Studente besig met praktiese werk. Foto hier onder: Studente by die Launch Lab.
Dipl_Sust_Dev_2.jpg