Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Africa Open-student en -personeellid ontvang HSS-toekennings
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 21/05/2018

Kyle Shepherd, ʼn bekroonde internasionale pianis en komponis van Suid-Afrika, wat ʼn meestersgraad (cum laude) van die Africa Open Institute (AOI) by die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het, en AOI-personeellid, prof Christine Lucia, was die ontvangers van South African Humanities and Social Sciences- (HSS-)toekennings.

Shepherd het die HSS-toekenning vir boeke, kreatiewe versamelings en digitale bydraes ontvang, en Lucia die HSS-toekenning vir beste digitale geesteswetenskappe-projek vir gemeenskapsbetrokkenheid.

Shepherd het die toekenning ontvang vir die beste musiekkomposisie vir die musiek wat hy gekomponeer het vir die internasionaal bekroonde rolprent Noem My Skollie, gegrond op die ware verhaal van voormalige bendelid John W. Fredericks, wat deur die voormalige gevangene self geskryf is.  

“Ek is vreeslik geëerd om hierdie vooraanstaande toekenning te ontvang. As ʼn musikant en komponis maak ek musiek wat die doel van kommunikasie dien – met ʼn gehoor, by wyse van spreke. ʼn Toekenning is ʼn absolute pluskant aan die eer om aan ʼn wonderlike stuk soos Noem My Skollie te kon werk. Ek is baie dankbaar vir die erkenning," sê Shepherd wat, saam met pianis Nduduzo Makhathini, geskiedenis gemaak het deur die eerste MMus-graduandi in jazz-uitvoering aan die US te word toe hulle in Maart 2018 gegradueer het. 

Shepherd en Makhathini was albei studente van die AOI, ʼn onafhanklike musieknavorsingsinstituut van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe by die US wat op musiek, navorsing en innovasie fokus. 

Lucia het die toekenning ontvang vir haar projek wat die navorsing, transkripsie, vertaling, redigering en publikasie van die koraalmusiek van Bataung-stamlid Joshua Pulumo Mohapeloa behels het. Die Joshua Pulumo Mahopeloa Critical Edition in Six Volumesis oor etlike jare geskryf, en die tweede uitgawe is in 2016 gepubliseer. 

In haar aanvaardingstoespraak het Lucia gesê dat die toekenning nie net erkenning aan haar eie werk gee nie, maar ook aan ʼn baie belangrike musiekgebied van Suid-Afrikaanse kultuur wat as ʼn navorsingsgebied oor die hoof gesien is – Afrika-koraalmusiek en die skryf van Afrika-komposisies. “Hierdie toekenning plaas nie net my projek nie, maar al die musiek wat deur Afrika-komponiste in die verlede en die hede gekomponeer is, wat in hul huise sit en swoeg met min hoop op roem en rykdom, in die kollig."

Die HSS-toekennings word aangebied deur die Nasionale Instituut vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe (NIHSS), wat daarna streef om vakkundigheid, navorsing en etiese praktyk op die gebied van die geestes- en sosiale wetenskappe (GSW) te bevorder en te koördineer in en deur die bestaande openbare universiteite en dié wat nog gestig moet word of in die toekoms as openbare universiteit verklaar sal word. Dit fokus ook op breë bevordering en ondersteuning van die GSWin Suid-Afrika en verder, asook om die regering en burgerlike samelewing oor sake verbonde aanGSWte adviseer deur hul programme, wat doktorale skole, katalitiese projekte en die African Pathways-program insluit, en deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding te ondersteun met die implementering van die voorgenome regstellende intervensies. 

Die toekennings verheerlik die voortreflike kreatiewe bydraes van akademici, kurators en kunstenaars wat by deelnemende Suid-Afrikaanse universiteite gebaseer is, wat werk aan die bevordering van GSW. Altesaam 39 niefiksieboeke, nege fiksieboeke, tien kreatiewe versamelings en sewe digitale bydraes, wat 23 uitgewers verteenwoordig, is deur meer as 30 hooggeagte beoordelaars en resensente ontvang en beoordeel.

“Die HSS-toekennings het ontstaan uit ʼn strategiese voorneme om ʼn robuuste postapartheid-hoëronderwysstelsel te bou wat gevorm is deur ʼn ewe begeesterde HSS, terwyl lede van die GWS-gemeenskap wat postapartheids- en postkoloniale vorme van vakkundigheid, kreatiewe en digitale geesteswetenskaplike produksies skep, bevorder, erken en gevier word," sê prof Sarah Mosoetsa, hoof- uitvoerende beampte van die NIHSS.

“Hulle vereer uitsonderlike, innoverende en sosiaal responsiewe vakkundigheid asook digitale bydraes," voeg sy by.

“Kyle se prestasie, weke ná sy graduering, word deur ons almal by AOI gevier. Dit is ʼn eer vir die Universiteit Stellenbosch om so ʼn vermaarde musikant as ʼn nuwe alumnus te verwelkom. Christine Lucia se werk is op talle verskillende maniere ʼn norm vir musiekvakkundigheid in Suid-Afrika, en ons heg waarde aan haar verbinding met die AOI as ʼn ereprofessor, waar sy navorsing oor die musiek van Michael Moerane as deel van die Andrew W Mellon Delinking Encounters-projek doen," sê prof Stephanus Muller, direkteur van die AOI. 

Foto: Prof Christine Lucia (links) en Kyle Shepherd tydens een van sy konserte, albei onlangse ontvangers van South African Humanities and Social Sciences- (HSS-)toekennings. (Fotograaf: Gregory Franz)