Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US loods eerste datasentrum in SA gefokus op demokrasie
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 07/05/2018

Die eerste datasentrum gefokus op demokratiese navorsing en die ontwikkeling van die Sosiale Wetenskappe in Suid-Afrika sal in Mei geloods word by die Universiteit Stellenbosch se Navorsingseenheid vir Transformasie. Die loodsing vind plaas op 8 Mei by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en by die Universiteit Stellenbosch op 10 Mei.

Volgens prof Ursula van Beek, die Hoof van die Navorsingseenheid vir Transformasie (in Engels, TRU): Globale Demokrasie, is daar geen toegewyde datasentrum of opleidingsprogram vir die empiriese studie van die demokrasie in Suid-Afrika nie. 

“In die loop van ons navorsingsprogramme gefokus op demokrasie wat oor byna twee dekades strek, het dit al hoe meer duidelik geword dat die groot hoeveelheid relevante data swak benut word. Hierdie waarneming het ons gelei na die idee om ʼn vrye-toegang datasentrum te open in die vorm van ʼn Intelligente Node. Die doel van die inisiatief sal nie wees om net nog ʼn argief te skep wat meeding met bestaande data-bewaarplekke nie, maar eerder om navorsingskapasiteit te ontwikkel deur Afrika-navorsers en nagraadse studente te help om relevante data op te spoor wat hulle benodig vir hul projekte, spesifiek oor die demokrasie, en oor Sosiale Wetenskappe in die algemeen," sê Van Beek.

Aan die hoof van die sentrum sal TRU-lid dr Cindy Steenekamp wees, ʼn senior lektor in die Departement Politieke Wetenskap en die voormalige Direkteur van die fakulteit se Nagraadse Skool.

Die datasentrum word ondersteun deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) aangesien sy doelstellings nou ooreenstem met die NNS se eie doelstellings. Hierdie doelstellings is om mededingend te bly in die navorsingsarena, om navorsing en innovasie op die Afrika-vasteland te internasionaliseer, om die land se reputasie wêreldwyd te verbeter, en toegang te kry tot globale kennis en kundigheid.

Volgens Van Beek, is die “benutting van data noodsaaklik vir die studie van die kwaliteit van die demokrasie".

“Byvoorbeeld, terwyl ons almal weet dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers hoog is, moet ons weet wat werkloses dink, wat hul opinies van die elite is, watter kwessies hulle mee worstel, en of hulle dink die regering voldoen aan hul verwagtinge of nie. Om dit te doen benodig jy data, of anders suig jy dit uit jou duim. Hoe meer data jy gebruik om te sê, ja dit is so, hoe beter sal jou bevindings wees."

Tydens die loodsfunksies in Johannesburg en Stellenbosch sal die internasionale kundige oor die studie van die demokrasie, prof Hans Dieter-Klingemann, huidige President van die Berlynse Internasionale Universiteit van Toegepaste Wetenskap, praat oor hoe om toegang te kry tot data wat die studie van die demokrasie ondersteun. ʼn Leidende kundige oor data-argivering en -bestuur, d. Ekkehard Mochmann (die vorige Direkteur van die Duitse Sosiale Wetenskap Infrastruktuur-dienste), sal praat oor die dinamiek van die deel van navorsingsdata.

Van Beek voeg dat, terwyl die datasentrum sal help om empiriese navorsing te verbeter, toegang tot data alleen nie genoeg is nie. Om hierdie rede sal studente en akademici opgelei word in hoe om data effektief te benut by ʼn Politieke Wetenskappe somerskool wat TRU tans beplan. “Afgesien van nagraadse studente wil ons graag jong akademici oplei, veral dié van voormalige benadeelde universiteite, sodat hulle op hul beurt hierdie inligting kan oordra aan hul eie studente. Op hierdie manier hoop ons om 'agente vir verandering' in ons land te help skep".

Foto: Dr Cindy Steenekamp (links) sal aan die hoof staan van die eerste datasentrum in Suid-Afrika gefokus op navorsing oor die demokrasie. By haar is prof Ursula van Beek, Hoof van die Navorsingseenheid oor Transformasie (TRU): Globale Demokrasie, waarin die sentrum geleë is. (Lynne Rippenaar-Moses)