Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Young Guns maak geskiedenis
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 14/04/2018

Die 2018 Maties Young Guns het hul name in die geskiedenisboeke van Maties Rugby geskryf deur die eerste Matiespan te word om die o.20-toernooi van die Varsitybeker-reeks te wen.

Maties het Maandag (9 April) in die voorwedstryd van die Varsityskild-eindstryd by UWK met Tukkies afgereken in ‘n taai Young Guns-eindstryd. Maties was ná 80 minute met 45-37 baas nadat hulle met halftyd 8-24 agter was.

Die slot Ben-Jason Dixon is as speler van die wedstryd aangewys. Dit was uiters gepas dat ‘n voorspeler die toekenning ontvang het, aangesien Maties se voorspelers hul meer gedugte Tukkies-agttal behoorlik die stryd aangesê het.

Met die rustyd het dit gelyk asof Tukkies se krag en spoed te veel vir Maties sou wees, maar wat ook al afrigters Christoff Lotter en Kabamba Floors met die halftyd-praattjie gesê het, het gewerk. 

Met die aanvang van die tweede helfte het Dan Jooste sy tweede van vier drieë gedruk en dit is net wat Maties nodig gehad het. Dixon het vyf minute later ook agter die doellyn gaan kuier. Met die telling 24-21 vir Tuks het dit soos ‘n boksgeveg geword met een slag (drie) wat deur 'n ander gevolg is. Met 21 minute oor het senter Henlo Marais gaan druk en sake was weer gelyk. Jooste se vierde drie met drie minute oor in die wedstryd het aan Maties vir die eerste keer in die wedstryd die voortou gegee en daarmee was Tukkies se doppie geklink.

Kaptein Anton du Toit het verlede jaar die eindstryd teen Tukkies verloor, maar dié keer kon niks die glimlag van sy gesig vee nie. 

“Ek moet dankie sê vir almal se ongelooflike ondersteuning dwarsdeur die seisoen. Ons bring dié een huis toe vir julle almal.”

Lotter het verwys na al die spelers wat deur die loop van die seisoen ‘n rol gespeel het, maar weens beserings nie in die finaal kon speel nie. “Kom ons dink ook aan dié manne wat hulle alles gegee het en ook graag vandag sou wou speel.”

Maties Sport se Hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, was baie bly om die trofee aan Du Toit te oorhandig. 

“Ek was halftyd effe bekommerd, maar met die verloop van die reeks het ons spelers gewys waartoe hulle in staat is, so ek het bly hoop. En die span het nie teleurgestel nie. Dit was geskiedenis vir ons Maties en dit is ‘n bewys van die belegging wat op alle vlakke gemaak word. Dit is natuurlik ekstra spesiaal aangesien die Universiteit sy eeufees vier. Die Varsitybeker-reeks verander lewens en vir ons Young Guns is dit ‘n sege wat vir altyd opgeskrywe is in die geskiedenisboeke van Maties Rugby.”

Puntemakers

FNB Maties Young Guns: 45 Drieë: Dan Jooste (4) Henlo Marais, Ben-Jason Dixon 

Doelskoppe: Anton du Toit (5)

FNB Tuks Young Guns: 37

Drieë: Cameron Hufke (3), Marnus Potgieter, Stefan Smit Doelskoppe: Cameron Hufke (4) 

Foto verskaf deur Varsity Sports