Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verstewiging van IPB-Indië-samewerking
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 10/04/2018

As deel van die voortgesette Suid-Afrika-Indië-navorsingsamewerkingstoekenning vir wetenskap en tegnologie het dr Christell van der Vyver van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB), Universiteit Stellenbosch, die navorsingsgroep van prof Sanjib Panda van die Departement Lewenswetenskap en Bioïnformatika aan die Universiteit Assam, in Silchar, Indië, besoek. Dr Van der Vyver het einde Maart na Indië gereis om die Nasionale Konferensie oor Biowetenskap en Biotegnologie by te woon en as uitgenooide spreker haar groep se navorsing by die konferensie bekend te stel. Die aangebode navorsing val binne die samewerkingstema vir die toekenning wat gemaak is, en is getiteld Enhancing drought tolerance in crops species using biotechnological approaches (Die verhoging van droogtetoleransie in gewasspesies deur die gebruik van biotegnologiese benaderings). Die konferensie is gereël deur die Departement Lewenswetenskap en Bioïnformatika aan die Universiteit Assam en is bygewoon deur navorsers gemoeid met alle aspekte van biotegnologie op die gebied van plant-, menslike en dierewetenskappe. Dr Van der Vyver se referaat getiteld Enhancing sugarcane as a crop through biotechnological approaches (Die verbetering van suikerriet as 'n gewas deur biotegnologiese benaderings) handel oor werk wat by die IPB gedoen word en hou verband met die verhoging van sukrose en droogtetoleransie in suikerriet, asook die ontwikkeling van instrumente vir genetiese modifikasie vir gebruik in suikerrietnavorsing. Dr Van der Vyver se besoek aan die Departement Plantkunde van die Universiteit van Gauhati, Guwahati, wat deur prof Panda en prof Bhaben Tanti gereël is, het haar 'n verdere geleentheid gebied om die navorsing oor droogtetoleransie in suikerriet bekend te stel.

As deel van die voortgesette samewerking sal prof Panda op sy beurt einde Mei na Suid-Afrika reis om behulpsaam te wees met nagraadse navorsingsprojekte wat spesifiek gerig is op transkripsiefaktore en hulle rol in droogtetoleransie in suikerriet, asook om idees uit te ruil in die algemene veld van oesverbetering tydens abiotiese stres. Dit sal aansluit by voortgesette en toekomstige uitruilbesoeke deur studente aan laboratoriums in Suid-Afrika en Indië. Tydens hierdie uitruilbesoeke word studente in verskeie toepaslike molekulêre tegnieke opgelei en kry hulle kans om by mede-wetenskaplikes in hierdie twee laboratoriums te leer.

India visit - in article photo.png