Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ongebruikte meubels vind nuwe tuiste by plaaslike skool
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 04/04/2018

Ongebruikte meubels van die Departemente Genetika en Agronomie het 'n nuwe tuiste by Kayamandi Primêr gevind nadat die skool se behoefte aan meubels onder die Fakulteit Agriwetenskappe se aandag gebring is.

'n Berig wat in Januarie in die plaaslike koerant Eikestadnuus verskyn het, het genoem dat hoewel die onderwysdepartement twee nuwe klaskamers aan die skool geskenk het, hierdie klaskamers geen meubels gehad het nie.

Mnr. Willem Botes, senior lektor in die Departement Genetika, het die artikel aan dr. MJ Freeborough, die fakulteitsbestuurder, gestuur wat versoek het dat me. Farida Martin, tegniese beampte in die Departement Agronomie, die moontlikheid ondersoek om meubels aan die skool te skenk. Dit is gedoen met die goedkeuring van prof. Nick Kotze, voorsitter van die Department Agronomie.

Die meubels is uit die ou lesingsaal van die Wintergraan-gebou verwyder en in die Departement Agronomie se pakhuis gestoor.

“Ek het met die skoolhoof, mnr. Mdekazi, vergader, wat na die pakhuis gekom het om te kyk wat ons aan die skool kan bied. Ek het ook die universiteit se bateregisterbestuurder gekontak om seker te maak dat geen van die meubels wat ons wou skenk, nog op die bateregister was nie," sê Farida.

Op Woensdag, 14 Maart, is 64 banke vir leerders, 28 stoele, drie staallaaikabinette, twee staalliasseerkabinette, vier houttafels en 'n yskas in 'n vragmotor gelaai en na Kayamandi Primêr vervoer.

“Die skool was baie opgewonde en dankbaar oor die skenking. Teen die tyd wat ons met die tweede vrag opgedaag het, het sommige van die stoele in die eerste vrag al op hul plek gestaan.

“Daar was beslis 'n groot behoefte aan die meubels en die fakulteit is baie bly dat ons die skool op dié manier kon bystaan."​