Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-inisiatiewe skep bewustheid op Wêreld-TB-dag
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 29/03/2018

​In die gees van Wêreldtuberkulosedag op 24 Maart het lede van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) ʼn paar uitreikingsiniatiewe aangebied om TB-bewustheid onder personeel, studente en die breër gemeenskap te skep.

Sowat 500 leerders uit die Worcester-gemeenskap kon verlede week die interaktiewe uitstalling “TB in die kollig” geniet wat deur TB-navorsers van die Fakulteit aangebied is. “Hierdie projek het ten doel om bewustheid oor TB onder leerders te skep, hulle oor TB te onderrig en die stigma rondom TB te help afbreek,” aldus dr. Michael Whitfield, ʼn navorser verbonde aan die DWT/NNS-sentrum vir Uitnemendheid van Biomediese Tuberkulosenavorsing en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Sentrum vir Tuberkulosenavorsing, wat by die FGGW se Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika gehuisves word.

“TB is ʼn reuseprobleem in Suid-Afrika en dis hoekom dit so belangrik is om die jeug op te voed, sodat hulle na hul gemeenskappe kan teruggaan en hul vriende en gesinne kan vertel wat hulle geleer het. Ons hoop ook om hulle in die proses opgewonde oor die wetenskap te maak!” sê Whitfield.

Leerders van etlike plaaslike skole is na die uitstalling aangery, wat by die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid van die Universiteit Stellenbosch se Worcester-kampus aangebied is. Die uitstalling het uit vier stasies bestaan, waar leerders met rekwisiete, speletjies en animasies kon interreageer. Dit het hulle meer geleer oor (1) die tekens en simptome van TB; (2) TB-diagnose; (3) pasiëntbehandeling en -uitkomste; en (4) TB-wetenskap/navorsing.

“Die idee is om dit so prettig, kreatief en interaktief moontik vir die leerders te maak sodat hulle opgewonde oor die onderwerp raak en meer oor TB leer,” het Whitfield gesê. Die uitstalling is in samewerking met die Suid-Afrikaanse TB-entstofinisiatief (SATVI) en die Departement Antropologie aan die Universiteit van Kaapstad onderneem, asook met die Wes-Kaapse Departemente van Gesondheid en Onderwys.

Soortgelyke uitreikaksies sal in April in Robertson en Stellenbosch gehou word.

Die FGGW se Eenheid vir Kliniese Navorsing oor Molekulêre Biologie het ook aan die vooraand van TB-dag ʼn TB-bewustheidsprogram in die Elsiesrivier- en Adriaanse-gemeenskappe aangebied. ʼn Motiveringspreker, dramasessie, vraag-en-antwoordsessie, speletjies vir kinders en middagete het deel van die program uitgemaak. Gratis TB-toetse is ook vir gemeenskapslede aangebied.

Die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTC) het ʼn etenstyd-seminaar vir studente en personeel van die FGGW aangebied, waar die kollig op die groot TB-las, die hoë risiko van TB-infeksie onder gesondheidswerkers en nuwe ontwikkelinge in pediatriese TB in die kollig was.

“Wie sorg vir die sorggewers? Ek en jy wat by gesondheidsorg betrokke is, is passievol oor die lewering van sorg van ʼn hoë gehalte en die voorkoming van TB. Ons dink nie veel aan ons eie gesondheid en die risiko wat gesondheidswerkers daagliks in die gesig staar nie,” het dr. Angela Dramowski van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid gesê. Sy is ʼn kenner op die gebied van infeksiebeheer en -voorkoming en het self TB oorleef.

“Om seker te maak dat goeie TB-infeksievoorkoming in plek is, of jy nou by ʼn kliniek, hospitaal of navorsingsentrum werk, is standaardpraktyk en net so belangrik soos enige ander werk wat ons doen,” het sy gesondheidswetenskappestudente, gesondheidswerkers en ander mediese praktisyns meegedeel wat die gedenking van Wêreld-TB-dag by die Tygerberg-kampus bygewoon het.