Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tilburg Universiteit se hoof aangestel as ereprofessor aan die US
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 27/03/2018

Dr ​Koen Becking, President van die Universiteit van Tilburg in Nederland, is aangestel as ereprofessor* in die Skool vir Publieke Leierskap (SPL) aan die Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrika. Hoewel hy reeds sedert 2003 as buitengewone professor van die US dien, is sy aanstelling as ereprofessor ter erkenning van sy impak en uitnemendheid as openbare leier wat ook bande tussen Tilburg en die US as institusionele vennote kan versterk.

"Dit is 'n groot eer om op deurlopende basis 'n ereprofessor van studente en kollegas in Suid-Afrika en Nederland te wees en om kennis en insig te deel. Ek ken albei universiteite goed en kan met die regte mense skakel om die bande tussen ons universiteite verder te versterk."

Voordat hy hom by die Universiteit van Tilburg aangesluit het, was Becking uitvoerende hoof van KRO, die grootste Nederlandse openbare mediamaatskappy. Voor KRO was hy uitvoerende hoof van die Nederlandse Instituut vir Publieke Administrasie. Hy het Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Amsterdam studeer en ʼn PhD aan die Universiteit van Utrecht verwerf. Daarbenewens is hy 'n genoot (MPA) van die Nederlandse Skool vir Bestuurskunde.

Die US, wat sy Eeufees in 2018 vier, is een van Suid-Afrika se voorste tersiêre instellings wat betref navorsingsuitsette, studenteslaagsyfers en gegradeerde wetenskaplikes, en word internasionaal as ʼn akademiese instelling van uitnemendheid erken. Die US het tien fakulteite: AgriWetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Ingenieurswese, Krygskunde, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid, en Teologie.

Die SPL is een van drie skole in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy kombinasie van openbare bestuur, die omgewing en volhoubaarheid as strategiese fokuspunte is uniek in Suid-Afrikaanse verband. Hierdie drie fokuspunte dien ook as die beweegrede vir die drie nagraadse programme in Openbare Beleid en Bestuur, Omgewingsbestuur en Volhoubare Ontwikkeling.

Die SPL se oogmerk om openbare waarde in Afrikaverband te skep, blyk duidelik uit sy leuse, “Leierskap vir 'n volhoubare Afrika-toekoms". As 'n akademiese skool, bied die SPL ruimte vir ʼn verskeidenheid dissiplines. Die diversiteit van hierdie dissiplines word nie net in die verskillende graad- en diplomaprogramme weerspieël nie, maar ook in die inhoud van die modules van elke graadprogram. Die unieke kombinasie van progressiewe bestuur, ontwikkeling en bewaring wat die SPL se fokusgebiede impliseer, en die gevolglike inisiatiewe deur sy verskillende programme, sentrums (onder meer die Sentrum vir Komplekse Stelsels in Transisie, die Anti-Korrupsie Sentrum en die Sentrum vir Plaaslike Regering) en strategiese vennootskappe (soos met die Stellenbosse Volhoubaarheidsinstituut), dra by tot ʼn sterk teenwoordigheid in die openbare en ontwikkelingsektor.

* Die Universiteit Stellenbosch stel ereprofessore aan wat erkennin geniet as denkleiers of wat bydraes kan maak tot ʼn spesifieke studierigting op grond van hul bewese akademiese prestige of kundigheid in 'n spesifieke professionele gebied. Ereprofessore word nie personeellede van die Universiteit nie, maar maak akademiese bydraes tot 'n spesifieke departement of fakulteit. Dit word beskou as 'n spesiale vorm van erkenning en ʼn versterking van bande tussen die individu en die Universiteit

Foto: Dr Koen Becking, President van Tilburg Universiteit in Nederland en Prof Wim de Villiers, Rek en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch