Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit is trots op studentesukses
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 26/03/2018

​In die onlangse Maart-gradeplegtighede van die Universiteit Stellenbosch (US) is meer as 1500 grade en diplomas aan studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die grootste fakulteit aan die US, toegeken. Dit bring dié Fakulteit se totale getal graduandi vir die akademiese jaar 2017 op 3 232 te staan.

As deel van sy eeufeesherdenking het die US 13 prominente denkleiers met eredoktorsgrade vereer. Onder hulle was prof Mervyn King, voormalige regter van die Hooggeregshof van Suid-Afrika en gerespekteerde korporatiewe bestuurskundige; mnr Patrice Motsepe, pionier vir verantwoordelike korporatiewe burgerskap en sakeman van formaat; en mnr Jannie Mouton, bedrewe Suid-Afrikaanse sakeleier en filantroop.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het gesê die US herdenk sy ontstaan 100 jaar gelede met 'n viering van “die afgelope eeu se groot prestasies en baanbrekerontdekkings".

“Ons erken almal wat hierdie instelling help vorm het. Terselfdertyd erken die Universiteit sy bydrae tot die onreg van die verlede, en bly ons verbind tot regstelling en ontwikkeling."

De Villiers het bygevoeg: “Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het groot welslae behaal om toegang tot die hoër onderwys te verbreed. Die afgelope dekade het die Fakulteit deelgeneem aan die Thuthuka-projek, wat daarop toegespits is om meer geoktrooieerde rekenmeesters uit voorheen benadeelde groepe op te lewer. Boonop is 40% van die Fakulteit se inkomste die afgelope jaar gebruik om studente se klasgeld te help betaal."

Spesiale eregrade

Wat die ontvangers van die eredoktorsgrade betref, het De Villiers gesê hulle vergestalt nie net die graduandi-eienskappe wat by studente ingeskerp moet word nie, maar ook die kenmerke waarmee die US die toekoms moet aanpak noudat die instelling sy tweede eeu as 'n toonaangewende universiteit betree.

Kort nadat hy sy eredoktorsgraad ontvang het, het prof King aan graduandi gesê: “Dankie vir hierdie eer en voorreg. Die pad na volhoubare ontwikkeling is 'n lang een. As professionele raadgewers vir julle toekomstige maatskappye, het julle 'n professionele plig. Julle sal die opsigters van hierdie planeet wees, en het die morele plig teenoor die generasies ná julle om 'n volhoubare planeet te probeer agterlaat. Julle het 'n belangrike bydrae te lewer. Julle het jare by hierdie wonderlike universiteit deurgebring. Moenie julle medegraduandi vergeet nie, want 'n mens se alumnikollegas bly vir die res van jou lewe vir jou belangrik."

Rekeningkunde-studente blink uit

Gedurende die gradeweek is die uitslae van die eerste professionele eksamen van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) ook bekend gemaak. Die Skool vir Rekeningkunde se HonsBRek studente van 2017 het dié eksterne eksamen in Januarie vanjaar afgelê.

Die slaagkoers van die rekordgetal studente van die Skool – 248 – was 94% (in vergelyking met 'n landwye slaagkoers van 78%). Dit plaas US en die Universiteit van Pretoria gesamentlik in die tweede plek onder die 15 SAIGR-geakkrediteerde universiteite landwyd. Die Universiteit van Kaapstad was eerste met 95%.

Drie oudstudente van die Skool vir Rekeningkunde beklee plekke onder die top 10: Reinhard Arndt (tweede plek), Wini-Louise Myburgh (vyfde plek) en Helen Denny (sesde plek).

Prof Pieter von Wielligh, waarnemende direkteur van die Skool vir Rekeningkunde, het die drie uitblinkers en al die suksesvolle oudstudente hartlik gelukgewens met hul merkwaardige prestasies.

  • Klik hier vir meer inligting oor die ontvangers van eregrade.