Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreld Maatskaplike Werk Dag gee maatskaplike werkers 'n dieper kykie in hul beroep
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 22/03/2018

Wêreld Maatskaplike Werk Dag word wêreldwyd op 20 Maart elke jaar gevier. Vanjaar, ter viering van dié internasionale dag van erkenning, het die Departement Maatskaplike Werk in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe as gasheer opgetree vir 'n praatjie deur dr Abigail Ornellas getitel 'Hierdie klere pas ons nie meer nie!' – Brei jou idee van Maatskaplike Werk uit.

Die praatjie is deel van ʼn aantal aktiwiteite aangebied deur die departement om die universiteit se eeufees te vier.

“Die tema van Wêreld Maatskaplike Werk Dag bevorder gemeenskap- en omgewingsvolhoubaarheid – hierdie is groot onderwerpe, en onderwerpe wat maatskaplike werkers by tye probeer ontwyk, of waarvoor hulle hulself probeer beperk tot sekere gebiede, in die geloof dat dit so ver is as wat hul impak of reikwydte strek," sê Ornellas, wat so pas haar doktorsgraad in Maatskaplike Werk behaal het aan die Universiteit Stellenbosch (US). (Lees haar hele verhaal hier.)

"Deur my ondervinding  en navorsing het ek egter gevind dat die maatskaplike werk beroep  wel in staat is tot, en verantwoordelik is vir  ʼn baie groter visie as wat ek glo ons somtyds onsself toelaat."

Om hierdie rede wil Ornellas maatskaplike werkers uitdaag om “verder te gaan en die reg en verantwoordelikheid op te eis om politieke, ekonomiese en makro-skaal uitdagings aan te pak" en om in gesprek te tree met beleide en regeringstrukture om ʼn baie groter impak te hê op die gemeenskap.

Sy het maatskaplike werkers aangemoedig om te begin dink aan hul veld as ʼn professionele een, waar hulle in staat is om verandering teweeg te bring op ʼn hoër vlak as net op grondvlak.

Tydens haar praatjie het sy aangedui hoe die hersiene internasionale definisie van maatskaplike werk (2014) oproepe tot maatskaplike werkers doen om “verder te gaan as die individualistiese benadering waarmee ons te lank gemaklik was, en die kollektiewe en strukturele oorsake van individuele uitdagings te bekyk.

​​“In die besonder verwys ek dikwels na die belang daarvan om die impak van ekonomiese en politieke teorie in die landskap van ons beroep te begryp – om die intervensie-aktiwiteite wat onderneem is krities te bevraagteken en te vra: “Hoekom? Hoekom op hierdie wyse? Waarvoor en met watter doel?", het Ornellas gesê.

Die afgelope paar jaar het Ornellas gefokus op die uitbreiding van haar navorsingskennis oor maatskaplike werk en die opbou van haar kundigheid. Tans is sy ʼn na-doktorale navorsingsgenoot van die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch. Voordat sy haar doktorsgraad aan die universiteit behaal het, het sy geruime tyd gereis as voltydse navorsingsgenoot vir die departement oor 11 lande. Hierdie ekspedisie is befonds deur twee Internasionale Uitruilskemas vir Navorsingspersoneel van die EU. Oor die jare het sy haar werk ook gepubliseer in sewe internasionale wetenskaplike publikasies en klas gegee en referate gelewer by konferensies in Suid-Afrika, Portugal, Italië, Spanje, Engeland, Suid-Korea, Rusland, Finland en Indië.

Terwyl sy nie as maatskaplike werker in die praktyk gewerk het na haar studies nie, is die studieprogram opgestel op so ʼn wyse dat studente uitgebreide praktiese werksondervinding opdoen in sowel kinder- en gesinswelsyn as kliniese maatskaplike werk.

Dit is hierdie ondervinding tydens haar meestersgraadstudies, het sy gesê, wat haar gelei het tot die konsep van deïnstitusionalisering.

“Dit was my werksondervinding by ʼn plaaslike staatshospitaal in my finale jaar wat my gedryf het tot navorsing soos ek bewus geword het van die rol van beleid en sosio-politieke dinamika in die praktyk van maatskaplike werk – wat die beroep kan beperk of bevry om sy mandaat te vervul volgens die globale definisie. My werk was gekonsentreer in die psigiatriese saal, en in die tyd dat Suid-Afrika in ʼn oorgang was na die deïnstitusionalisering van geestesgesondheidsorg. Dit beteken institusionele psigiatriese fasiliteite word gesluit en geestesgesondheidsorg word verskuif na gemeenskapsgebaseerde inisiatiewe", het Ornellas verduidelik.

“Dit het geklink na ʼn edele idee, maar wanneer dit in ʼn neoliberale (ʼn beleidsmodel wat vryemark kapitalisme bevorder) omgewing geïmplementeer word, is dit bloot ʼn kostebesparende oefening wat die staat verlos van die koste van geestesgesondheidsorg, en die oordrag van hierdie verantwoordelikheid aan die burgerlike samelewing sonder genoegsame gemeenskapsontwikkeling en ondersteuning."

Dit is van die hoofredes, sê sy, dat die Life Esidimeni tragedie plaasgevind het. In 2016 het 'n besluit om pasiënte van Life Esidimeni, ʼn staatsfasiliteit, te verskuif na ʼn aantal NRO's wat swak voorbereid was om hierdie pasiënte te huisves, gelei tot die dood van 144 kwesbare pasiënte.

“Van die gesprekke wat ek gehad het met maatskaplike werkers wat hierdie verskuiwing probeer navigeer het en kwesbare groepe wat geraak is daardeur, spook vandag nog by my. Hulle het gevoel asof hulle teen ʼn soliede baksteenmuur baklei. Die frustrasie en desperaatheid was aanvoelbaar. Dit het my laat besef dat navorsing oor maatskaplike werk ʼn rol te speel het in die uitdaag van strukturele stelsels wat maatskaplike werkers op grondvlak belemmer.

“Wat ek nou besef," sê sy terwyl sy aanhaal uit navorsing wat sy uitgevoer het saam met prof Lambert Engelbrecht van US se Departement Maatskaplike Werk, en dr Gary Spolander van Coventry Universiteit in die VK, “is dat tensy maatskaplike werk in staat is om die aard en oorsake van maatskaplike nood te identifiseer, sal dit nie in staat wees om geskikte intervensies aan te beveel en ondersteun nie."

“Bygesê, ek is diep bewus van die beperkings van my begrip, as ʼn akademikus. Ek hoef nie dit waarmee hulle te doene het, in die gesig te staar nie, maar my toewyding in my akademiese strewes is tot maatskaplike werkers wat met hierdie uitdagings worstel. Dit is hoekom my doktorale tesis die noodsaaklikheid om buite die klein akademiese omgewing uit te beweeg beklemtoon, om die standpunte van maatskaplike werkers in die voorste linie te analiseer en te belig," het Ornellas gesê.

Wat sy wel weet, sê Ornellas, is dat “maatskaplike werk ʼn kritiese rol moet speel in die huidige neoliberale en globaliseringsdebat en nie net moet instem tot prioriteite soos begrotingsbeperkings en aannames dat ʼn mens nie ʼn verskil kan maak buiten hulp aan dié op grondvlak nie. Dit speel ook ʼn kritiese rol in die uitdaag van die beleide van huidige regerings wat nie werk nie.

“Maatskaplike werk moet navorsing, pedagogie en ʼn kritiese stem gebruik ter ondersteuning van die fasilitering van maatskaplike verandering, ontwikkeling, kohesie en maatskaplike stabiliteit, sowel as die bemagtiging en bevryding van mense."

Sy het opkomende maatskaplike werk studente aangemoedig om “bemagtig te voel deur hul rol en beroep en om werklike toegewy te wees tot maatskaplike geregtigheid in die geheel, eerder as om ʼn instrument of ʼn bystander te wees tot iemand anders se agenda. Sy het ook verwys na die noodsaaklikheid om “die opleiding van maatskaplike werkers te dekoloniseer van sy Westerse koloniale, kapitalistiese en neoliberale onderbou".

Terwyl sy nie as maatskaplike werker gepraktiseer het nie, het Ornellas intieme binnekennis van die kinderwelsynstelsel. As jong kind het Ornellas en haar tweelingbroer hul dikwels in pleegsorg bevind terwyl hul moeder, wat 'n tevergeefse stryd met geestesongesteldheid gevoer het, gesukkel het om Abigail en haar broer groot te maak.

​“My biologiese ma het ons versorg maar dit was nie vir haar maklik nie en ons is dikwels verskuif na plekke van veiligheid. Ek is nog altyd dankbaar dat sy uiteindelik die besluit geneem het om ons permanent oor te gee aan ʼn ander familie. Toe ons byna vyf jaar oud was, is ons aangeneem deur ʼn wonderlike Suid-Afrikaanse gesin van musikante – hulle is ʼn ongelooflike ondersteuningstelsel en tel regtig onder die beste mense wat ek ken. Die ondervinding was moeilik en daar was beslis dinge waardeur ek moes werk as volwassene, maar ek sou dit nie anders wou hê nie. Dit het beslis van my ʼn beter maatskaplike werker gemaak. Dit is egter net een deel van my storie en daar is soveel meer wat my en my liefde vir hierdie beroep gevorm het. Ek probeer om dit nie die sentrale fokuspunt te maak nie."

Dit is een van die redes wat haar uiteindelik na maatskaplike werk gelei het, het sy haar gehoor vertel.

“My eerste ondervinding van maatskaplike werk was toe ek as kind in pleegsorg was en dus het ek nog altyd geglo dit is belangrik. In my wêreld was dit uiters betekenisvol en het ʼn belangrike rol gespeel om my te bring tot waar ek vandag is, dus het ek ʼn diep respek daarvoor. Soos ek verder studeer het, en hoe meer ek geleer, gelees en ervaar het, hoe meer het ek geglo hierdie beroep was selfs groter as wat ek oorspronklik geglo het in terme van sy potensiële impak en rol in die gemeenskap. Hoewel die praktyk van maatskaplike werk iets is waarvoor ek lief is en in die nabye toekoms aan deel wil hê, was dit die beroep self, die mense, die konsep, wat my werk aangegryp het. Dit was iets waarvan ek deel wou wees."

Vandag met die fokus op Wêreld Maatskaplike Werk Dag, hoop Ornellas dat die dag nie net gevier sal word as ʼn dag waarop maatskaplike werkers nadink oor die “kollektiewe mandaat waarin ons dag-tot-dag praktyk val nie, maar dat die dag ons sal aanspoor om groter te dink, en ons toewyding te hernu op dae wanneer ons sukkel om te onthou hoekom ons doen wat ons doen, en wonder of ons ʼn verskil maak. Dit moedig ons ook aan om die krag en waarde van ons ʼn beroep te onthou – ons is ʼn globale kollektiewe liggaam wat ʼn massiewe rol speel in gemeenskapswelsyn.

“In ʼn land soos Suid-Afrika moet ons weet wat ons gemeenskap benodig en of ons daardie behoeftes aanspreek of nie, en wat moet gebeur in terme van strukturele beperkings wat ons verhoed om daardie behoeftes te bevredig. Daar is baie beroepe wat terapiewerk doen, maar daar is nie baie beroepe soos maatskaplike werk, wat betrokke is by die makro-aspekte van die maatskaplike stelsels wat lei tot maatskaplike euwels nie."

Foto: Dr Abigail Ornellas (derde van links) was die genooide spreker by die viering van Wêreld Maatskaplike Werk Dag deur die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch. (Lynne Rippenaar-Moses)