Vir baie mense is die keuse van watter loopbaan om te volg 'n baie moeilike besluit, maar vir ander is daar regdeur hul lewe rigtingwysers na 'n sekere beroep en word 'n loopbaan 'n roeping. Dr Abigail Ornellas, wat vandeesweek haar doktorsgraad in Maatskaplike Werk ontvang het, is een van die laasgenoemde.
Ornellas en haar tweelingbroer is kort voor hul vyfde verjaarsdag aangeneem nadat hul vier jaar in pleegsorg was. “Die familie wat ons aangeneem het is ongelooflik en het ons 'n wonderlike lewe gegee en geleenthede gebied wat ons waarskynlik nooit andersins sou kry nie. Ek was die eerste in my familie wat universiteit toe gegaan het en 'n graad gekry het. My gesin is baie ondersteunend en trots op my.
“My ervaring in pleegsorg het my diep bewus gemaak van die belangrike rol van maatskaplike werk en die impak wat dit op 'n lewe kan hê. Sommige van die ervarings wat ek as kind deurgemaak het, het my ook in die praktyk gehelp om die belangrikheid van geleenthede te verstaan. Geleenthede is al wat mense regtig nodig het om tot hul reg te kom. Dit hou my nederig."
Dit was egter eers teen die einde van haar voorgraadse studies in maatskaplike werk wat sy begin besef het waartoe hierdie beroep werklik in staat en voor verantwoordelik is. In haar vierde jaar het sy in die psigiatriese saal van 'n plaaslike staatshospitaal gewerk. “My biologiese ma het gesukkel met haar geestesgesondheid, so dit was 'n gebied waarin ek geïnteresseerd was. Ek het egter nooit besef watter belangrike rol maatskaplike werk in hierdie veld kan speel nie. Ek het al meer bewus geword van die stryd in die geestesgesondheidsektor namate baie staatsfasiliteite gesluit is weens deinstitusionalisering."
Dit het 'n belangstelling by haar geprikkel in die konsep van deinstitusionalisering en sy het besluit om vir haar meestersgraadstudies op hierdie fenomeen in Suid-Afrika te fokus. “Dit was my eerste kennismaking met die wêreld van maatskaplike beleid. Ek het later besef dat deinstitusionalisering gekoppel was aan 'n veel groter konsep – neoliberalisme. Neoliberalisme plaas die fokus op die individu, die beskerming van die bevoorregtes en die elite, die kommodifikasie van sorg en die privatisering van dienste asook die idee dat welsyn afhanklikheid kweek. Hierdie idees is in skrille kontras met maatskaplike werk se waardes van kollektivisme, sosiale geregtigheid, sosiale kohesie en menswaardigheid."
Nadat sy haar meestersgraad voltooi het, was sy vir twee jaar 'n navorsingsgenoot op 'n internasionale personeel-uitruilprogram waar spanne van 11 verskillende land die impak van neoliberalisme op maatskaplike werk nagevors het. “Hierdie ervaring het die grootste impak op my loopbaandoelwitte en akademiese navorsing gehad. Dit het my die groter prentjie laat sien. Om in verskillende lande te woon en die stories van maatskaplike werkers uit verskillende agtergronde te hoor, het my oë oopgemaak vir die omvang van my beroep. Ek het 'n liefde en 'n passie vir die beroep ontwikkel. Ek het begin verstaan dat dit die maatskaplike beroep se plig is om globale sosio-ekonomiese verander teen te staan as dit nie tot voordeel van die mense is nie."
Iets wat een van haar professore gesê het, het haar bygebly. Terwyl hulle gepraat het oor die konsep om iemand te leer om vis te vang eerder as om vir hulle 'n vis te gee, het hy bygevoeg, 'maar dit help nie om iemand te leer visvang as daar 'n heining om die dam is nie'.
“Daardie dag het ek besluit ek sal myself daartoe verbind om maniere te vind om die heinings af te breek – en dit is makro en struktureel, en na my mening vorm dit die kern van die maatskaplike beroep. Ons moet die stelsel waarbinne ongeregtighede op individuele vlak plaasvind, konfronteer en dinge van binne die sisteem verander."