Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Museums moet demokrasie koester, glo dr De Villiers
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 22/03/2018

Al dink sommige mense die doel van museums is om oudhede te bewaar, glo dr Gera de Villiers hulle het ʼn belangrike rol om demokratisering te koester en ʼn gemeenskap se identiteit te wys.

Dr De Villiers het haar PhD-graad in Visuele Kunste op Donderdag 22 Maart van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang. Sy is die dogter van die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en sy vrou, Catherine.

In haar studie het dr De Villiers ʼn vergelykende analise van die semiotiese landskappe van die Stellenbosch Village Museum en die Kayamandi Creative District House Museum gedoen. Haar PhD-reis het begin toe sy vir prof Elmarie Constandius van die US se Departement Visuele Kunste aan ʼn projek gewerk het om data in te samel van voorheen ongedokumenteerde kuns en kultuur wat geskep en steeds geskep word in die Kayamandi-gemeenskap.

“Ek het ʼn passie vir huismuseum en het besef dat die Kayamandi Creative District House Museum en sy narratief ʼn interessante jukstaposisie kan wees met die Stellenbosch Village Museum en sy narratief in ʼn post-apartheid, demokratiese Suid-Afrikaanse konteks," sê dr De Villiers.

Vir haar was een van die mees verrassende dinge wat sy tydens haar studie geleer het dat daar steeds baie min inklusiewe museums vandag in Suid-Afrika is, en dat museologiese transformasie ook stadig was.

“As iemand wat lank oorsee gewoon het, was dit vir my interessant om die geleentheid te hê om te leer oor ʼn gemeenskap anders as myne en wie se geskiedenis en kultuur bydra tot dié van Stellenbosch, waarvandaan my familie kom," voeg sy by.

Dr De Villiers het haar voorgraadse studie in Kunsgeskiedenis van die Centre College in Danville, Kentucky ontvang, haar meestersgraad in Museumstudies van die Georgetown-universiteit in Washington DC (met ʼn semester by die Sotheby Kunsinstituut in Londen), en haar honneursgraad in Kuratorskap aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

“Ek het internskappe gedoen by ʼn aantal kunsorganisasies en museums, naamlik die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, die Smithsonian American-kunsmuseum en Wilton House Museum in Richmond, Virginia, waar ek verlief geraak het op huismuseums en die talle narratiewe wat bestaan in die spasie – ʼn spasie wat deels  ʼn huis en deels ʼn museum is, van privaat en openbaar," sê dr De Villiers.

Sy glo museums het ʼn verantwoordelikheid om demokrasie te koester, en die dekolonisasie van hul mag en kennis is essensieel om die tekort aan inklusiewe geskiedenisse en kultuur wat in museums verteenwoordig word, aan te spreek. “Dit is belangrik vir ʼn gemeenskap om betrokke te wees om inklusiewe voorstellings van hulself in museums te skep. Die maniere waarop museum diverse geskiedenisse en kultureer aanspreek, of nie aanspreek nie, het ʼn uitwerking op die gemeenskap se skep van identiteit vír en óór hulself."

Dr De Villiers is tans werksaam by die kunsafslaers Straus & Company. “In die toekoms hoop ek om ʼn ná-doktorale genoot by ʼn museum te wees. My groot droom is om by die Van Gogh-museum in Amsterdam te werk waar my liefde vir kuns en museum destyds begin het," sê sy.

Onderskrif: Dr Gera de Villiers (middel) saam met haar ouers, Catherine en prof Wim de Villiers. Foto: STEFAN ELS