Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vierde gradeplegtigheid: 114 PhD’s in 8 jaar vir Lettere se Nagraadse Skool
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 22/03/2018
 

Die gradeplegtigheid van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe vandag (22 Maart 2018) aan die Universiteit Stellenbosch (US) is gekenmerk deur twee mylpale: die Fakulteit se Nagraadse Skool het nou al meer as 100 doktorsgrade toegeken, en dit boonop in die jaar wat die Fakulteit sy eeuwording saam met die res van die US herdenk as een van die instelling se oorspronklike vier fakulteite.

Tydens die geskiedkundige seremonie het 605 studente gegradueer (altesaam 1591 studente insluitend dié van Desember 2017), en is eredoktorsgrade ook aan twee vooraanstaande denkleiers, mnr Max du Preez en me Sandra Prinsloo, toegeken.​​

 

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het in sy verwelkoming gesê: “Met ons Eeufees herdenk ons groot prestasies en baanbrekeruitvindings die afgelope honderd jaar. Ons gee erkenning aan almal wat die US help vorm het. Terselfdertyd het die Universiteit sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede erken en hom tot regstelling en ontwikkeling verbind."

“Teen die einde van hierdie week se gradeplegtigheidseremonies en ná dié van Desember 2017 sal ons weer 'n rekordgetal kwalifikasies vir een akademiese jaar toegeken het – altesaam 9 032 kwalifikasies, insluitend 1 620 meestersgrade en 305 PhD's. Dit is fenomenale getalle! Dit is duidelik dat die Universiteit Stellenbosch as 'n nasionale bate 'n waardevolle bydrae lewer."

De Villiers het gesê dat die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe 'n wye akademiese aanbod het en dat die Nagraadse Skool pionierswerk vir voltydse doktorale studie doen.

“In ons Eeufeesjaar vier die Nagraadse Skool vir Lettere en Sosiale Wetenskappe in hierdie Fakulteit die mylpaal van meer as 100 PhD-gegradueerdes (114 om presies te wees) wat sedert 2010 gelewer is, waarvan die meeste nou as navorsers en akademici by hoër onderwysinstellings regoor ons vasteland werk om sodoende die sogenaamde 'breinkwyn' uit Afrika te keer."

As deel van die US se Eeufeesherdenking sal 13 eredoktorsgrade gedurende die week toegeken word. Vandag het aan die beurt gekom, Max du Preez, “beginselvaste en kompromislose joernalis en onafhanklike kommentator", en Sandra Prinsloo, “legendariese aktrise, regisseur en kulturele aktivis". Elk het ʼn kort toespraak gelewer.

Du Preez het gesê: "Dit is 'n spesiale eer om die toekenning te ontvang, veral omdat dit my alma mater is en in die Universiteit se eeufeesjaar. Dit is raar dat joernaliste vereer word."

Hy het bygevoeg dat hy trots is op die hedendaags ondersoekende joernalistiek. Hy is egter begaan oor die Afrikaanse koerante wat blyk of hulle vassteek by die Mandela-euforie en huidige kwessies nie aanspreek nie. 

Prinsloo het gesê: "Dit is die grootste toekenning wat ek nog ontvang het. Veral omdat dit ook is van 'n instelling wat strewe na multitaligheid en multikulturalisme."  Prinsloo het grappenderwys bygevoeg dat sy nou vir dr John Kani ook kan sê sy is “doktor" Prinsloo.​

WhatsApp Image 2018-03-22 at 09.25.21.jpeg

  WhatsApp Image 2018-03-22 at 09.50.00.jpeg

Vir die Rektor se toespraak klik hier.​

Vir meer oor die eregrade klik hier.​