Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lae rugpyn raak miljoen, maar baie kry verkeerde behandeling
Outeur: The Lancet Series
Gepubliseer: 22/03/2018

Lae rugpyn is die hoofoorsaak van ongeskiktheid wêreldwyd en raak ʼn geraamde 450 miljoen mense op enige gegewe tyd. Tog benadruk ʼn nuwe reeks referate in The Lancet die omvang van die foutiewe behandeling van hierdie toestand, wat dikwels teen beste behandelingsriglyne indruis. 'n Navorser aan die Universiteit Stellenbosch, prof Quinette Louw van die Afdeling Fisioterapie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is een vir die mede outeurs van die studie.

​Mediese getuienis dui daarop dat lae rugpyn op primêre gesondheidsvlak bestuur moet word en dat die eerste linie van behandeling voorligting moet wees en ʼn aanbeveling om aktief te bly en aan te hou werk. 

Maar in teenstelling word ʼn groot persentasie pasiënte wêreldwyd in noodgevalle-afdelings behandel, aangemoedig om te rus en op te hou werk en dikwels vir skanderings of chirurgie verwys. Voorts word pynstillers voorgeskryf, met inbegrip van opoiëde, wat nie vir die behandeling van lae rugpyn aanbeveel word nie.

“Die meeste gevalle van lae rugpyn reageer op eenvoudige liggaamlike en psigologiese terapieë wat mense aktief hou en hulle in staat stel om by die werk te bly, verduidelik een van die reeks se outeurs, prof. Rachelle Buchbinder van die Universiteit van Monash in Australië. “Maar meer aggressiewe behandelings met twyfelagtige voordele word dikwels aangemoedig en die koste daarvan word terugbetaal."

Die reeks beoordeel bewyse uit hoë- en lae-inkomstelande wat daarop dui dat talle van die foute van hoë-inkomstelande reeds goed in lae- en middelinkomstelande gevestig is. Rus word dikwels in lae- en middelinkomstelande aanbeveel en hulpbronne om werkplekke aan te pas is skaars. 

Lae rugpyn is jaarliks die oorsaak van 2,6 miljoen noodgevalle-besoeke in Amerika en opoiëde word in baie gevalle voorgeskryf. ʼn Studie in 2009 het bevind dat opoiëde voorgeskryf is aan sowat 60% van pasiënte wat noodgevalle-afdelings in die VSA besoek het. Boonop is oefening net vir sowat die helfte van mense met chroniese rugpyn in Amerika voorgeskryf. Studies in Indië dui daarop dat bedrus dikwels aanbeveel word en ʼn studie in Suid-Afrika het bevind dat 90% van pasiënte pynmedikasie as hul enigste vorm van behandeling ontvang het (sien paneel, referaat 2 vir verdere voorbeelde).

“In talle lande word pynstillers met ʼn beperkte positiewe uitwerking gewoonlik vir lae rugpyn voorgeskryf, met baie min klem op bewysgebaseerde intervensies soos oefening. Dis van deurslaggewende belang dat lae-inkomstelande in hul reaksie op hierdie vinnig toenemende oorsaak van ongeskiktheid die vermorsing vermy wat met hierdie onbesonne praktyke gepaard gaan," voeg een van die skrywers, prof. Nadine Foster van die Keele Universiteit in die Verenigde Koninkryk (VK), by.​

Die Globale Siektelasstudie (2017) het bevind dat lae rugpyn die hoofoorsaak van ongeskiktheid in bykans alle hoë-inkomstelande is, asook in Sentraal- en Oos-Europa, Noord-Afrika, die Midde-Ooste en dele van Latyns-Amerika. Jaarliks gaan ʼn totaal van een miljoen jaar produktiewe lewe in die VK weens lae rugpyn verlore; drie miljoen in Amerika en 300 000 in Australië (sien globale siektelas (GBD) vir beskikbare spesifieke ramings vir lande).

Die globale ongeskiktheidslas weens lae rugpyn het sedert 1990 met meer as 50% toegeneem en sal waarskynlik in die komende dekades selfs verder verhoog soos wat die bevolking verouder.

Lae rugpyn raak meestal volwassenes van ʼn werksouderdom. Die spesifieke oorsaak daarvan kan selde geïdentifiseer word en word dus as nie-spesifiek aangedui. Bewyse dui daarop dat sielkundige en ekonomiese faktore belangrik in voortgesette lae rugpyn is. Die meeste episodes van lae rugpyn is kort van duur met min of geen gevolge nie, maar herhalende episodes is algemeen (sowat een uit drie mense sal binne ʼn jaar nadat hulle van ʼn vorige episode herstel het, ʼn herhaling ervaar) en lae rugpyn word al hoe meer as ʼn langdurige toestand verstaan.

Volgens die outeurs moet gesondheidsorgstelsels skadelike en nuttelose behandelings vermy deur net behandelings waarvoor openbare gesondheidstelsels betaal, aan te bied as die bewyse toon dat dit veilig, doeltreffend en koste-effektief is. Hulle benadruk voorts die behoefte daaraan om wydverspreide wanopvattings onder die bevolking en mediese beroepslui oor die oorsake, prognose en doeltreffendhed van verskillende behandelings vir lae rugpyn aan te pak.

“Miljoene mense oor die wêreld heen kry die verkeerde behandeling vir lae rugpyn. Die beskerming van die publiek teen onbewese of skadelike benaderings tot die bestuur van lae rugpyn verg van regerings en gesondheidsorgleiers om gevestigde of teenproduktiewe vergoedingstrategieë, gevestigde belange en finansiële en professionele aansporings wat die status quo handhaaf, te takel," sê een van die outeurs, prof. Jan Hartvigsen van die Universiteit van Suid-Denemarke.   “Befondsers moet net vir behandeling van ʼn hoë waarde betaal, ophou om ondoeltreffende of skadelike toetse of behandelings te finansier, en veral navorsing oor voorkoming, beter toetse en beter behandelings verskerp."

Onderskrif: Prof Quinette Louw

Foto: Damien Schumann