Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof du Plessis gee erkenning aan Maties Sport
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 13/03/2018

Julle is eerstens studente aan die Universiteit Stellenbosch en dan atlete. Julle is studente-atlete wat studeer om universiteitsgrade te behaal.

Dit was die boodskap van Maties Sport se adjunkdirekteur, mnr. Jerry Laka, by die Maties Sport-verwelkomingsfunksie vir afrigters, kapteine, bestuurders en voorsitters.

Prof Stan du Plessis, bedryfshoof van die US, het dieselfde boodskap beklemtoon.

Prof Du Plessis het krediet en erkenning gegee aan alle partye wat by Maties Sport betrokke is.

“Ons roem ons op die diens wat ons aan studente lewer. Ons besef dat julle eerstens studente en tweedens sportsterre is. Die feit dat Maties Sport 'n akademiese sukseskoers van 83% het, is nie per toeval nie. Dit is te danke aan die hoëprestasieprogram. Ons wil seker maak dat julle nuwe ervarings beleef en 'n nuwe perspektief op die lewe ontwikkel danksy jul sportloopbaan op universiteit. En onthou om julle tyd by Maties te geniet. Ons wil graag wen, maar ons wil ook hê dat julle jul studentejare geniet."

2017 se Sportvrou van die Jaar, Frankie du Toit, het gesê daar was nooit enige twyfel dat sy Maties toe sou kom nie.

“Ek het van die begin af geweet wat en waar ek wil studeer. Maar ek was steeds baie verras oor die ondersteuning wat atlete deur die hoëprestasieeenheid ontvang. Hierdie program help om gebalanseerde individue te skep. Dit skep 'n omgewing waarin jy sterker, vinniger en beter sal word."

Mnr. Laka het almal vir hul harde werk bedank.

“Kapteine, afrigters, sportbestuurders en voorsitters: ons streef dieselfde doelwit na. Ons wil ook die klubs groei en sal jul ondersteun in jul pogings."