Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Vibrasie Spektroskopie fasiliteit "wêreldklas"
Outeur: E Els
Gepubliseer: 09/03/2018

Die nuwe Vibrasie Spektroskopie eenheid binne die Sentrale Analitiese Fasiliteite (SAF) by Universiteit Stellenbosch (US) is op 6 Maart bekendgestel. Hierdie wêreldklas fasiliteit bied aan studente, navorsers en industrie wonderlike nuwe moontlikhede vir toepassings oor 'n wye spektrum wat insluit voedselkwaliteit en -veiligheid en die mediese, landbou, argeologiese, paleontologiese en farmaseutiese industrieë.

 

Die fasiliteit is in die Departement Voedselwetenskap by die US en huisves splinternuwe hyperspektrale beeld apparatuur wat die studie van spektrale verskille om die chemiese samestelling en ruimtelike verspreiding van hierdie komponente op te los, moontlik maak. Die fisiese eienskappe van die monster kan ook op 'n nie-vernietigende en nie-indringende wyse met min of geen monstervoorbereiding ondersoek word.

Gaste is deur prof Gary Stevens, direkteur van SAF, by die bekendstelling verwelkom. "Ek is baie opgewonde om te sien wat ons met hierdie laboratorium kan regkry in terme van navorsing oor 'n baie wye verskeidenheid velde," het Stevens gesê. Die Eenheid is 'n inisiatief wat moontlik gemaak is deur befondsing van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) deur die Nasionale Toerusting Program en die uitstekende aansoek wat deur prof Marena Manley en dr Paul Williams geskryf is. Mnr. Stephen Dlamini van die NNS het sy opgewondenheid oor die nuwe laboratorium uitgespreek en gaste herinner aan die verskeidenheid geleenthede en befondsing wat die NNS bied.

Manley wat in 2005 bewus geword het van hyperspektrale beelding, het gesê dat hierdie laboratorium "regtig 'n droom is wat waar geword het." Die toerusting in die laboratorium is in Februarie 2018 geïnstalleer deur tegnici van HySpex, Norsk Elektro Optikk in Noorweë. HySpex het berig dat dit “die grootste installasie ooit op 'n enkele ligging is". Daar is nie so 'n fasiliteit in die hele wêreld nie. "Dit is regtig 'n wêreldklas fasiliteit." Manley het studente en navorsers aangemoedig om die laboratorium te gebruik en gesê dat hulle sekergemaak het dat die sagteware (van Prediktera, genaamd Breeze en Evince) gebruikersvriendelik is. "Dit is 'n navorsingsfasiliteit, nie net om u monsters na te stuur nie, maar ook om betrokke te raak en die fasiliteit te gebruik."

Dr Janine Colling, bestuurder van die fasiliteit, het verduidelik dat die eenheid drie stelsels het. 'n Shortwave Infrared (SWIR) stelsel (wat in die spektrumreeks van 850 ‒ 2500 nm gebruik word); 'n Visible Near Infrared (VNIR) stelsel (wat funksioneer in die spektrum van 400  ̶  1000 nm) en 'n dubbele VNIR / SWIR-stelsel om in die transmissie- of reflektansie modus te skandeer. Colling het studente, navorsers, akademiese instellings en industrie genooi om die laboratorium te gebruik en aansoek te doen vir 'n opleidingswerkswinkel wat vir Junie skeduleer is (www.sun.ac.za/caf). Hyperspektrale beeldvorming kan gebruik word vir die kwalitatiewe en kwantitatiewe analise van monsters. Voorbeelde van toepassings sluit in die opsporing van kneusplekke of verkoelingsbesering in vrugte, tot die identifisering van bakteriële infestasie in koring. Sodra toepassings geskep is, kan hulle ook op die Breeze-sagteware gebruik word vir ware tyd analise van monsters.

Gasspreker, prof Christian Huck van die Universiteit van Innsbruck, Oostenryk, het gesê dat ernstige voedselprobleme oor die hele wêreld gesien word. Sommige hiervan sluit in voedselbesoedeling van hoenderplase, plastiek in sjokolade en die baie ernstige geval in China in 2008  waar melamien by baba voeding gevoeg is om die inhoud van proteïen kunsmatig te verhoog. 54 000 babas moes in die hospitaal opgeneem word en sommige het gesterf. Daar is talle ander voorbeelde. Huck het gesê dat medisyne-toepassings en die toets en vind van nuwe medisinale plante, belangriker geword het in Europa. Hy het klem gelê op die belangrikheid om maklik bruikbare toerusting beskikbaar te hê om studies te doen.

Almal wat belangstel om meer te weet of hierdie fasiliteit besoek, kan die webwerf www.sun.ac.za/caf besoek of 'n e-pos stuur aan dr Janine Colling by jcolling@sun.ac.za

         

  Mnr Stephen Dlamini (NNS) en prof Gary Stevens (SAF)  -  Prof Marena Manley  -  Gaste by die bekendstelling van die fasiliteit

 

                                

  Dr Janine Colling, bestuurder van die nuwe Vibrasie Spektroskopie eenheid - Mnr Stephen Dlamini (NNS)  - Prof Christian Huck (Oostenryk)