Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#Maties100-fietsers span saam vir beurse
Outeur: Asiphe Nombewu/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 08/03/2018

​​Met enkele dae oor voor die Kaapstadse Fietstoer op 11 Maart 2018, is sewe fietsryers van Kayamandi in Stellenbosch oorgehaal om saam met die #Maties100-span aan die resies deel te neem ter herdenking van die Universiteit Stellenbosch (US) se eeuwording en om geld in te samel vir studiebeurse.

Die sewe maak deel uit van die resiesspan van US-alumnus Chris Norton se BMT-fietswinkel in Dorpstraat, Stellenbosch.

“Dit is vir ons ʼn eer om by hierdie inisiatief betrokke te wees. Ons mikpunt is om die Fietstoer in ʼn goeie tyd te voltooi om te wys wat gedoen kan word," sê Unathi Msophi, die span se bestuurder.

Die span oefen daagliks en neem gereeld deel aan groot fietsrenne soos die Cape Epic. Die US se Kampusgesondheidsdienste verskaf sportmediese dienste aan hulle voor sulke geleenthede.

Msophi sê fietsry het die spanlede – wat saam in Kayamandi grootgeword het en goeie vriende is – al baie gehelp.

“Dit is ʼn wonderlike manier om die omstandighede wat ons in die gesig staar te bowe te kom, en dit het al vir ons baie deure oopgemaak. Ons het onder begin, toe opgeskuif na die ontwikkelingsfase en nou is ons professionele ryers."

Met Norton van BMT se hulp het van die spanlede werk gekry en studeer hulle verder.

Die span val nou in by die #Maties100-groep vir die Kaapstadse Fietstoer en sal saam met prof Wim de Villiers, Rektor van die US, en ʼn groot groep personeel, studente, alumni en vriende van die Universiteit ry.

Altesaam 63 fietsryers het onder die vaandel #Maties100 en die leuse “saam vorentoe" ingeskryf om die wêreld se grootste fietstydren oor 109 km aan te pak. Die geld wat ingesamel word deur die inskrywingsfooi en donasies van die publiek, sal vir beurse aangewend word.​4.jpg

“Die hoër onderwys is die weg na die toekoms vir ons jeug. Ons verwelkom die onlangse aankondiging van meer staatshulp vir studente, maar daar is steeds ʼn groot behoefte aan beurse," sê prof De Villiers.

Die BMT-span het op 28 Februarie op die Rooiplein bymekaargekom en met prof De Villiers en een van die ander #Maties100-fietsryers, Geo Erasmus, ontmoet. Hy studeer Sportwetenskap aan die US.

“Enigeen wat bereid is om die werk te doen en gereeld te oefen, kan fiets ry. Ons moes ons pad boontoe opwerk, en nou kan ek met selfvertroue sê dat ons reg is vir die Kaapstadse Fietstoer," sê die spanbreier Thando Ntuthu.

Msophi sê dat Songo Fipaza, ʼn plaaslike sosiale entrepreneur wat hard werk om opheffingswerk deur sport in Kayamandi te doen, die span geïnspireer het.

“Hy het ʼn klomp kinders gehelp deur ʼn veilige plek vir hulle te gee en hulle besig te hou na skool. Dis hy wat ons aan bergfietsry bekend gestel het. Nou is dit ons as span se droom om meer mense betrokke te kry, veral die jonges. Ons het ʼn klomp fantastiese geleenthede gehad en ons wil graag terugploeg waar ons kan."

Die deelnemers sal elk 'n spesiale #Maties100-fietsryhemp as deel van hulle inskrywingspakket ontvang. “Slegs 100 hemde word eksklusief vir die Universiteit se Eeufees gemaak. Minder as 40 hemde is nog beskikbaar vir ander fietsryers om te koop. Kyk uit vir ons stalletjie by Fietstoer Expo, of stuur vir my e-pos na marvin@sun.ac.za," sê Marvin Koopman van Alumnibetrekkinge.

MATIES100 shirt.jpg
Foto links: Saam met prof Wim de Villiers, US-rektor (middel) is (van links) Dr Le Roux van der Westhuizen, 'n oud-SR-voorsitter, prof Sofia du Plessis, Ekonomie-dosent, en haar man, Francios, en Desmond Thompson van Korporatiewe Kommunikasie. (FOTO: HENK OETS)

​By die eindstreep sal 'n gasvryheidstent op die fietsryers wag. “Alle Maties wat aan die fietstoer deelneem, is welkom. Kom sit agteroor sit en geniet iets kouds terwyl jy jou bande met mede-Maties versterk. Ek verwelkom jou graag daar," sê Shaun Stuart van Alumnibetrekkinge.

* Besoek http://bit.ly/Maties100 om ʼn skenking aan #Maties100 te maak en die beursfonds ʼn hupstoot te gee.​​

* Klik hier vir ʼn vorige storie http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=5401

* Hooffoto: Op die Rooiplein saam met die US-rektor, prof Wim de Villiers (in die middel), is (van links af) Sandiso Xetu, Bongani Bhusakwe, Unathi Msophi, Thando Ntuthu, Songezo Luwaca, Geo Erasmus, Baphelele Mbombo en Zola Ngxakeni. Erasmus is ʼn student aan die US, en die ander fietsryers is ʼn groep vriende van Kayamandi verbonde aan die BMT-resiesspan, wat hul  gewig ingegooi het by die #Maties100-span wat aan die Kaapstadse Fietstoer gaan deelneem om geld vir studiebeurse in te samel. (FOTO: STEFAN ELS)​