Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#Maties100 gereed vir Kaapstadse Fietstoer
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 28/02/2018

#Maties100 gereed vir Kaapstadse Fietstoer

Ter herdenking van die Universiteit Stellenbosch (US) se eeuwording, sal 'n groot groep personeellede, studente, alumni en vriende van die Universiteit op 11 Maart 2018 aan die Kaapstadse Fietstoer deelneem om geld vir studiebeurse in te samel.

Tot dusver het 63 deelnemers ingeskryf om dié fietsren oor 109 km onder die naam #Maties100 en die leuse “saam vorentoe" aan te pak. Die bykomende bedrag wat elkeen benewens hul inskrywingsfooi betaal het, sowel as skenkings van die publiek, sal vir beurse aangewend word.

Ryers sluit in die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en sy dogter, Gera, sowel as die Viserektor: Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, en verskeie dosente, waaronder proff Sophia du Plessis, Bob Mash, Sadulla Karjiker, Anton Basson en Johan Hattingh.

Die deelnemers sal elk 'n spesiale #Maties100-fietsryhemp as deel van hulle inskrywingspakket ontvang.

“Slegs 100 hemde word eksklusief vir die Universiteit se Eeufeesjaar gemaak. Minder as 40 hemde is nog beskikbaar vir ander fietsryers om te koop. Die span aanvaar ook nog tot 1 Maart verdere volle inskrywings," sê Marvin Koopman van Alumnibetrekkinge.

MATIES100 shirt.jpg
“Die hoër onderwys is die weg na die toekoms vir ons jeug. Hierdie inisiatief is 'n manier om universiteitstudie vir studente moontlik te maak," sê prof De Villiers.

Oor sy verwagtinge van die fietsren sê hy: “Ek sien uit na 'n windstil dag, goeie kameraderie en pragtige natuurskoon om ons van die moeg te laat vergeet."

Le Roux van der Westhuizen, 'n alumnus wat die ren die 16de keer sal aflê, sê: “Dit is 'n fantastiese manier om terug te gee, want nie net doen ons iets vir die pret nie, maar die geld is vir studiebeurse bestem."

Prof Du Plessis, 'n dosent in Ekonomie, sê deelname aan die geleentheid kombineer twee goed wat sy en haar man, Francois, juis geniet – oefening en om terug te gee. Hulle sal 'n tandemfiets ry.

“Ons het al baie liefdadigheidsprojekte ondersteun, maar dié een is tot nog toe die beste. Dat die US sy eeuwording gedenk, was 'n verdere inspirasie. Ek het 'n baie sterk band met hierdie instelling, want dít is waar ek my studie voltooi het, en boonop het ons vanjaar ons seun na die Opedag gebring met die oog daarop dat hy óók van aanstaande jaar af hier studeer."

Geo Erasmus, 'n BA Sportwetenskap-tweedejaar, sê: “Ek dink #Maties100 is 'n wonderlike inisiatief wat soveel lewens positief sal raak. So, daar kan nie 'n beter saak wees om my eerste Kaapstadse Fietstoer voor af te lê nie!"

By die eindstreep sal 'n gasvryheidstent op die fietsryers wag.

“Ek nooi graag alle Maties wat aan vanjaar se fietsren deelneem om ons Maties-gasvryheidstent by die eindstreep te kom besoek, waar jy kan agteroor sit en iets kouds geniet terwyl jy jou bande met mede-Maties versterk. Ek verwelkom jou graag daar," sê Shaun Stuart van Alumnibetrekkinge.

* Gaan na http://bit.ly/Maties100 vir meer besonderhede. Om in te skryf of 'n eksklusiewe #Maties100-fietsryhemp te koop, stuur 'n e-pos na stbfound@sun.ac.za