Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Eeufees-vieringe bereik hoogtepunt die naweek
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 01/03/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Eeufees-aktiwiteite bereik dié naweek ʼn hoogtepunt met twee spesiale Eeufeesherdenkingsgeleenthede wat in samewerking met die US Woordfees aangebied word: Vrydag 2 Maart 2018 vind die Eeufeeskonsert plaas en op Saterdag 3 Maart die Familiedag – na  afloop van die Eeufeespretstap deur die dorp se strate.

Die Eeufeeskonsert en die Familiedag vind op Coetzenburg plaas. Kaartjies vir Eeufeeskonsert en –familiedag is te koop op Computicket, terwyl daar geen kostes verbonde is aan Saterdag se pretstap is nie.

Saterdag se pretstap begin om 07:30 by die Ou Lückhoffskool in Banghoekweg. Dit is spesifiek gekies om erkenning te gee aan die inwoners wat gely het in die gedwonge uitsettings van die gesinne wat in Die Vlakte gewoon het en om simbolies van daar af die sogenaamde Banghoek-skeidslyn oor te steek.

Deelnemers aan die pretstap kry boonop gratis toegang tot Coetzenburg vir die Familiedag na afloop van die pretstap! Registreer voor 3 Maart om 06:00 deur jou volle name, ID nommer en kontaknommer via Whatsapp te stuur aan 082 287 1764.

Kunstenaars soos Gloria Bosman, Tim Moloi, Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Valiant Swart, Arno Carstens, Brandon October, J'Something en MiCasa tree Vrydagaand op terwyl ʼn parade deur die Militêre Akademie, valskermspringers, ʼn vertoning deur die elité lugmageenheid, die Silwer Valke, ʼn opvoering van Pieter en die Wolf, en optredes deur kunstenaar soos Les Javan, Theuns Jordaan, Jeremy Loops en Jimmy Nevis Saterdag op die program is – op twee verhoë. Daar is ook stalletjies en mallemeulens.

 

MEER OOR DIE GELEENTHEDE

EEUFEESKONSERT

Die EEUFEESKONSERT vind van 18:00 tot 23:00 plaas op Coetzenburg.

18:00-20:00

Die US Jazz Band, onder leiding van Felicia Lesch, begelei Gloria Bosman en Tim Moloi met “big band" treffers, van Mack the Knife tot Meadowlands. Die Soetstemme van Solms-Delta vermaak met hulle aansteeklike energie, trots Stellenbosch sangduo TWEE sing hulle treffers, en die Dennegeur Marimba-orkes hou die feesgees hoog.

20:00-22:00

Die Eeufees-orkes, met alumni-lede van die US, o.l.v. maestro Marvin Kernelle, laat waai met meesterlike komposisies van Leonard Bernstein en Dimitri Sjostakowitsj. Dié orkes begelei legendes Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Valiant Swart. Die veelbekroonde Minette du Toit-Pearce sing saam met haar belowende studente, die internasionaal bekroonde US-koor tree saam met alumnus Arno Carstens op, met vele melodieuse hoogtepunte deur Heavenly Quartez, Brandon October en 30 jong violiste van die Ronnie Samaai Music Education Project

22:00-23:00

J'Something en sy 'familia' MiCasa sluit die aand op hulle eiesoortige Suid-Afrikaanse manier af.

Vir US personeel, studente en alumni kos ʼn kaartjie slegs R100 (algemene toegang) en R200 vir die “Goue Sirkel". Bespreek asb by Computicket.

 

EEUFEESPRETSTAP EN FAMILIEDAG

Op 3 Maart is dit tyd vir die EEUFEES PRETSTAP en FAMILIEDAG. Deelnemers aan die Pretstap kom om 07:30 bymekaar by die Ou Lückhoffskool in Banghoekweg. Dit is spesifiek gekies om erkenning te gee aan die inwoners wat gely het in die gedwonge uitsettings van die gesinne wat in Die Vlakte gewoon het en om simbolies van daar af die sogenaamde Banghoek-skeidslyn oor te steek.

Van die skool af kruis die roete die sentrale kampus en eindig by Coetzenburg. Hier wag vermaak vir die hele gesin. Dit sluit in ʼn parade deur die Militêre Akademie, valskermspringers, ʼn vertoning deur die elité lugmageenheid, die Silwer Valke, ʼn opvoering van Pieter en die Wolf, en optredes deur kunstenaar soos Les Javan, Theuns Jordaan, Jeremy Loops en Jimmy Nevis. Daar is twee verhoë, stalletjies en mallemeulens, en vir die volwassenes ʼn bier- en wyntent. Bring jou eie stoel en kombers en kom ontspan! En as jy liefs jou eie koelboks kos wil bring (maar sonder glas of alkohol), kan jy koelbokskaartjie deur Computicket koop.

Indien jy net aan die Coetzenburggeleenthede wil deelneem, koop jou kaartjie via Computicket (Pryse tussen R150 en R60). Diegene wat egter aan die pretstap deelneem, kry gratis toegang tot Coetzenburg wanneer hulle die stap voltooi het.