Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huidige studente maak kragtige stellings aan ywerige voornemende studente op Ope Dag 2018
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 01/03/2018

Iemand het een keer gesê om universiteit toe te gaan is ‘n bietjie soos om “die heelal te betree”. Alles is verwarrend en enorm. Dis hoekom die personeel en huidige studente van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) baie moeite gedoen het om die “kompleksiteite” wat dikwels met sy aanbieding gepaard gaan, tydens sy Ope Dag op 24 Februarie 2018 op te klaar.

Die Fakulteit – een van tien van die US – bied die volgende programme aan: MB,ChB; B in Arbeidsterapie; B in Spraak-, Taal- en Gehoorterapie; BSc in Dieetkunde, en BSc in Fisioterapie. Die Fakulteit hoop ook om van 2019 af ‘n B in Verpleegkunde en Verloskunde aan te bied, afhangende van finale akkreditasie van die program deur die Suid-Afrikaanse Verpleegraad (SANC)

Sowat 3000 leerders van so ver as Gauteng af het aan die dag se aktiwiteite by die Fakulteit se Tygerberg-kampus deelgeneem, waar huidige studente ook ‘n projek onderneem het om kragtige stellings oor hul gekose studieveld by die Fakulteit te maak en ten toon te stel. Me Farah Fredericks, Adjunkregistrateur en Hoof van die Sentrum vir Studente-administrasie (Tygerberg), het gesê: “Ons huidige studente is ons ware ambassadeurs en hulle was wonderlik. Nie net het voornemende studente ‘n voorsmaak gekry van hoe dit sal wees om hier te studeer nie, maar hulle kon ook met mense met eerstehandse werkervaring van die Fakulteit se studievelde praat. Die beroepe waarin ons studente oplei kan as lewensreise beskou word, wat bydra tot ons algehele visie om gesondheid en gelykheid vir alle Suid-Afrikaners te bevorder. Dit was wonderlik om die interaksie tussen ons toekomstige TygerMaties en die FGGW-studente en -personeel te beleef.”

Vornemende studente, tesame met hul onderwysers en ouers, het ‘n lewendige belangstelling in kampustoere en demonstrasies getoon. Die program het leerders, hul ouers en onderwysers die geleentheid gebied om uit te vind presies watter programme by die FGGW beskikbaar is, die keuringsproses, beurse, huisvesting, asook ‘n algemene indruk van die studentelewe op die Tygerberg-kampus. Verteenwoordigers van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid en die Sunloc-eenheid, wat die logistiek van die Fakulteit se uitgebreide kliniese platform in die Wes-Kaap en dele van die Oos- en Noord-Kaap koördineer, het ook ‘n belangrike teenwoordigheid op de dag gehandhaaf.


Onderskrif: Huidige studente by die Universiteit Stellenbosch se Fakultei​t Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe maak kragtige stellings oor hul gekose studieveld.