Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PynSA se volgende president ’n dokter van Stellenbosch Universiteit
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 28/02/2018

Dr Sean Chetty, adjunkhoof van die Departement van Anestesiologie en Kritieke Sorg by die Universiteit Stellenbosch, is onlangs verkies tot vise-president van die Pynvereniging van Suid-Afrika, oftewel PynSA. Volgens die vereniging se grondwet, beteken dit dat Chetty die presidentskap van die vereniging vir ’n tydperk van drie jaar tot 2020 sal behartig – die eerste keer dat dié eer ’n personeellid van US toekom.

Chetty is reeds sedert 2009 ’n bestuurskomiteelid van PynSA, en dien sedert 2012 as die vereniging se tesourier. In sy rol as visie-president, sal hy die huidige president, prof Romy Parker, ondersteun. Hy sal ook daarop konsentreer om institusionele kapasiteit en strategiese vennootskappe uit te brei.

“Die aanstelling gee erkenning aan al die werk wat ek oor baie jare gedoen het om pynkennis en die behoorklik bestuur van pasiënte in Suid-Afrika te bevorder,” sê Chetty. “Dit was nog altyd my passie. Hoewel ek dit nooit vir persoonlike gewin gedoen het nie, is dit tog lekker om te weet dat my insette erken en waardeer word.”

Tydens sy term as president wil Chetty daarop fokus om opvoeding en opleiding in pynbestuur te ontwikkel. “Ek wil spesifiek plaaslike Suid-Afrikaanse navorsing aanmoedig. Ek wil ook graag sien hoe ons meer geïntegreerde, multi-dissiplinêre pynnavorsing, wat basiese wetenskapnavorsing en kliniese praktyk kombineer, doen.”

Die narkotiseur wil ook graag verseker dat die pynbestuur-subspesialiteit deur die Raad van Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika goedgekeur word vóór hy sy term in 2023 voltooi. “Ek hoop verder dat Suid-Afrika in 2022 die Wêreld-pynkongres sal kan huisves. Die bod word in 2018 toegestaan.”

Chetty se aanstelling sluit uitstekend aan by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se plan om nagraadse opleidingsprogramme in die behandeling en bestuur van pyn te ontwikkel. Sy aanstelling as visie-president, en uiteindelik president, van PynSA sal ook die fakulteit se kundigheid in die bestuur van pyn ten toon stel. “Dít sal weer die universiteit help om meer met ander internasionale universiteite te skakel.”

Die veld is besig om op die oomblik vinnig te verander, wat intensiewe samewerking tussen die verskillende gesondheidsorgdissiplines vereis. “Samewerking is belangrik in terme van pasiëntsorg en die ontwikkeling van navorsing in die veld,” sê Chetty.

Danksy die werk wat tans deur hierdie pynkenner en ander personeellede gedoen word, lyk dit of die fakulteit binnekort ’n leier op die gebied van pynnavorsing en -opvoeding sal wees.

Chetty sluit af: “Nou moet ons net die ondersteuning, welwillendheid en entoesiasme in die fakulteit inspan om tasbare resultate te lewer.”

Onderskrif: Dr Sean Chetty is onglangs verkies tot visie-president van die Pynvereniging van Suid-Afrika.