Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitnemendheid en innovasie bevorder by US-winkels
Outeur: Asiphe Nombewu & Rozanne Engel/Corporate Communication
Gepubliseer: 27/02/2018

​​​​​​​​Uitnemendheid en innovasie bevorder by US-winkels​

 Die Universiteit Stellenbosch (US) het nog altyd na uitnemendheid gestreef en streef dieselfde oogmerk in indrukwekkende innovasies na. As deel van dié onderneming het Innovus, die US se nywerheidsinteraksie- en innovasiemaatskappy, twee splinternuwe winkels op die Stellenboschkampus geopen.

Die Matiewinkel by die Neelsie, wat in 1995 oopgemaak het, het intussen 'n vars nuwe voorkoms gekry en is op 15 Januarie heropen. Die Universiteit Stellenbosch-winkel in Dorpstraat is op 7 Februarie geopen, op dieselfde perseel as die Galery Universiteit​ Stellenbosch. By al twee winkels word verskeie US-handelsmerkware soos klere, geskenke, wyn, plante en selfs babaklere uitgestal en verkoop. Die winkels hou ook 'n verskeidenheid innoverende ontwerpe van US-studente en ander ontwerpers aan.

“Die winkels beskik oor 'n klassieke tog vars ontwerp, en 'n moderne en buigsame uitleg. Dit is 'n treffende voorbeeld van hoe Innovus met 'n akademiese omgewing werk om 'n simbiotiese verhouding met sy kommersialiseringsaktiwiteite te skep," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US.

Die twee winkels word deur SUNCOM (voorheen bekend as Kommersiële Dienste) bestuur, en het met die medewerking van Innovus oor die jare heen gehelp om die uitnemendheid en innovasie van US-produkte op die voorgrond te plaas.

“Innovus en SUNCOM het in 2017 kragte saamgesnoer, deur die kommersialisering van intellektuele eiendom en steundienste in een afdeling byeen te bring. Ons glo dit ondersteun die belangrike boodskap van die Universiteit se uitvoerende bestuur, naamlik dat ons almal moet saamwerk om die Universiteit se vyfdestroominkomste te ontwikkel en so langtermynvolhoubaarheid te verseker," sê Hein Swanepoel, Direkteur van SUNCOM.

Swanepoel meen die winkels hou voorraad aan wat nie net vir die US van belang nie, maar ook vir die gewone publiek. “Hierdie twee winkels kan 'n baie gewilde plek en die middelpunt van kampusinkopies word. In die dorp fokus ons op die toerismemark en bemark die US en Stellenbosch in die algemeen."

Anita Nel, Senior Direkteur: Innovasie en Besigheidsontwikkeling, het tydens die amptelike opening van die Matiewinkel in die Neelsie gesê dié twee winkels bied die wêreld 'n blik op die Universiteit Stellenbosch.

“Dit is nie net 'n winkel nie, maar ook 'n plek waar studente hulle werk kan vertoon. Ons hou vars- en tuisgemaakte produkte soos Matie-melk, -wyn en -juweliersware aan – al hierdie produkte is by die twee winkels beskikbaar en bied 'n smakie van Stellenbosch.

Wat ons hier met die Universiteit Stellenbosch-winkel in Dorpstraat gedoen het, is 'n eerste van sy soort in Suid-Afrika, want geen ander hoëronderwysinstelling in die land het 'n winkel buite die universiteitsterrein waar sy produkte verkoop word nie."

Buiten Innovus, is die Departement Visuele Kunste ook nou by die US se winkelinisiatief betrokke. Die winkels gaan van die unieke skeppings van die US se juweliersontwerp-studente aanhou, sowel as produkte soos wyn en klein plante van die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin.

Baie US-studente is opgewonde oor die nuwe winkel in die Neelsie. Die span van Korporatiewe Kommunikasie het met Chris Kode, 'n BCom(Regte)-student, gesels: “Ek probeer besluit watter hoodie ek moet kies!" Kode sê hy is in sy noppies met die uitbreiding, want die nuwe winkel is baie groter en meer op studente gemik.

Shanice du Preez, 'n BSc-student in wingerd‐ en wynkunde, sê die winkel kon net sowel in 'n inkopiesentrum wees: “Daar is so baie items om uit te kies! Ek kry hier idees vir verjaarsdaggeskenke wat ek wil koop, want hierdie winkel voorsien in elkeen se smaak."