Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hulde aan uitmuntende wiskunde-dosent
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 27/02/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US), die Fakulteit Opvoedkunde en die Departement Kurrikulumstudie betreur die dood van 'n uitmuntende wiskunde-dosent, Dr Helena Wessels. Dr Wessels was ten tyde van haar heengaan, 'n senior lektor in Wiskunde-onderwys vir die Grondslagfase in die B.Ed-program.

Sy was verantwoordelik vir modules in die B.Ed-Grondslagfase-Honneurs-program en die B.Ed-vierdejaars. Sy was passievol oor musiek en het twee modules in musiek binne die B.Ed-program aangebied.

Dr Wessels het veral haar merk gemaak met die integrasie van tegnologie en e-leer in haar klasse en onderrigprogram terwyl sy ook van verskeie publikasies insluitende 'n boek International Perpectives on the Teaching and Learning of Mathematical Modelling and Sense making (2017) (Springer, New York) outeur was. Sy het ook goeie navorsingskollaborasies opgebou met kollegas in Washington, New York en Duitsland en het in 2017 aan die hoof gestaan van die reëlingskomitee van die International Conference on the Teaching and Modelling of Mathematics and Applications (ICTMA-2018) wat hier plaaslik gehou is.

Sy het talle toekennings ontvang en is verlede jaar deur die Universiteit gekies om die US in 2018 te verteenwoordig in die TAU Nasionale Onderriggenootskap (South African Teaching Advancement at University (TAU). Sy is verskeie kere gevra om namens die DBO werkswinkels aan te bied vir onderwysers landwyd.

Dr Wessels se dienslewering aan haar gemeenskap is breedvoerig en sy het 'n verskil gemaak op verskeie vlakke. Sy dien op die uitvoerende raad van ICTMA, die raad van die Centre for Creative Education (CEE) in Kaapstad, die HRDC (Human Resources Development Council) se staande komitee vir Wiskunde en Wetenskapsonderrig en was ook 'n lid van verskeie komitees binne die departement, die Fakulteit en die Universiteit.

Die departement Kurrikulumstudie en Fakulteit Opvoedkunde eer dr Wessels as 'n besondere mens en haar heengaan is 'n groot verlies vir die departement en die Universiteit. Haar eggenote, prof Dirk Wessels, is ook 'n buitengewone professor in Wiskunde in dieselfde departement by Universiteit Stellenbosch.