Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties wen Dusi-titel
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 26/02/2018

Ses maande nadat hulle hul visier op die Dusi-titel gestel het, het susters Jordan en Cana Peek hul doelwit bereik.​

Die Peeks, albei lede van die Maties Kanoklub, is vroeër in Februarie as wenners van die Dusi Kanomarathon se vrouekategorie gekroon. Hulle het die afstand van ongeveer 120 km tussen Pietermaritzburg en Durban in 'n gekombineerde tyd van 9 uur 45 minute 23 sekondes afgelê, agt minute voor die span in die tweede plek.

“Om die Dusi te wen, was onwerklik. Dit het my eers twee dae ná die wedvaart getref dat ons die doelwit waarvoor ons so hard gewerk het, bereik het," sê Cana.

Nadat hulle die wenstreep oorgesteek het, het 'n gevoel van blydskap en dankbaarheid Jordan oorweldig, veral omdat sy dié ondervinding met haar suster kon deel.

“Ons het in Julie 2017 besluit om die Dusi met erns aan te durf. Terwyl ons in Stellenbosch was, het ons tyd gemaak vir die gimnasium om aan krag en draf te werk, want die Dusi is 'n fisiek veeleisende wedvaart met heelwat tye wat jy die boot moet dra. Toe ons in Desember by die huis (Pietermaritzburg) was, het ons omtrent elke dag gedraf en geroei."

Volgens die susters is die Dusi is 'n groot toets van krag en karakter.

“Jy kan op papier die fiksste en sterkste roeier wees maar wanneer dit by die Dusi kom, is daar soveel ander veranderlikes wat ter sprake kom wat die wedvaart in eie reg uniek maak. Jy kan uit jou boot val, jou boot of roeispaan kan breek of jy kan deur die gevreesde Dusi-maagkiem aangetas word. Dit gaan als daaroor om die minste foute te maak en regdeur die drie dae bestendig te bly," voeg Jordan by.

Cana, wat vir 'n Sportwetenskap-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer, moet nou terugkeer boeke toe.

“Ek moet opvang met my akademie voorbereiding vir die Dusi was intens. Dit was 'n moeilike balanseertoertjie tussen ons oefening, studies en sosiale lewe."

Jordan het in 2017 met 'n BA honneurs in Geografie en Omgewingstudies aan US gegradueer.

Hulle is albei mal oor kanovaart en om lede van die plaaslike klub te wees.

Vir Cana is die beste deel van die Maties Kanoklub die sespak-damresies op Dinsdae en die vriendskappe wat sy gesmee het.

Jordan is nog altyd lief vir watersport en die natuur.

“Met roei kan ek in die buitelewe wees en plekke uit 'n ander perspektief sien. Ek is mal oor hoe my betrokkenheid by hierdie sport my kans gee om vriende te maak met mense met dieselfde belange. Kanovaart daag jou ook voortdurend uit, veral wanneer jy teen 'n sterk en talentvolle veld roeiers van oor die land heen deelneem."

Ander lede van Maties Kanoklub wat aan die Dusi deelgeneem het is Mike Jamieson, Guy Musto, Brandon Macleod, Evan Knight, Holly Edmonds, Sarah Harries en Kerry-Ann Lyne. Die Houston-broers moes weens siekte onttrek.

Volg die Maties Kanoklub op Facebook, Instagram en Twitter vir meer inligting, of kontak die klubvoorsitter Evan Knight by evanericknight@gmail.com.