Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kry waardevolle inligting by Universiteit Stellenbosch se 2018 Opedag!
Outeur: Centre for Student Recruitment and Career Advice / Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies
Gepubliseer: 14/02/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Opedag is die ideale geleentheid vir Graad 11 en 12-leerders om waardevolle inligting oor studiegeleenthede by hoër onderwysinstellings te bekom.

Die US-Opedag vind plaas op Saterdag, 24 Februarie vanaf 08:30 tot 16:00 by die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse.

“Die groot voordeel van ʼn Opedag is dat voornemende studente direk met personeel verbonde aan die Universiteit kan gesels. So kan hul die inligting kry wat húlle wil hê oor die onderskeie studievelde en die ondersteuningsdienste wat die Universiteit bied," vertel Magdel Pretorius, Projekbestuurder: Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies.

Besoekers kan inligting kry oor loopbaankeuses, finansiële steun, studiegeld, koshuisplasings, akkommodasie en studentelewe, terwyl die Afdeling Studentesake in Bosmanstraat inligting oor akkommodasie op kampus en die opsies vir private akkommodasie sal deurgee.

Leerders wat belangstel in hoë-prestasie sport kan ook met atlete en sportbestuurders van Maties Sport op die Rooiplein gesels.

“Nuut op vanjaar se program is ʼn spesiale uitnodiging aan die nuwe generasie Matie-studente om hul toekomsdrome op ʼn 'Droommuur' op die Rooiplein te kom skryf," vertel Pretorius.

Inligtingsessies

Besoekers word aangemoedig om eerste by die verwelkomingstent voor die Konservatorium in Victoriastraat aan te doen. Volledige inligting oor die dag se program en die inligtingsessies is hier beskikbaar, terwyl daar regoor die kampus inligtingsbeamptes sal wees om besoekers te adviseer.

Die inligtingsessies dek onder meer die volgende temas:
Aansoekproses vir toelating en koshuisplasing
Finansiële steun
Die proses om ʼn studieveld te kies
Studenteondersteuning (insluitende studente met spesiale leerbehoeftes.)
Taalondersteuning
Veiligheid op kampus

Registreer vir die Opedag 

Leerders word aangemoedig om vir die Opedag te registreer. Voornemende studente kan ook vanjaar middagetes in ʼn US-koshuis teen R60 pp bespreek sowel as vervoer na die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidwetenskappe op die Tygerberg-kampus. Registrasie kan gedoen word by die skakel http://bit.ly/2ncjqDw

Belangrike inligting om te onthou:

Besoek www.maties.com vir die volledige Opedagprogram met tye en venues of skakel  021 808 9111 of stuur ʼn e-pos aan info@sun.ac.za.   

As gevolg van die waterkrisis in die Wes-Kaap, moedig die Universiteit besoekers aan om hul eie gebottelde water saam te bring.