Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regshulpkliniek ontvang R1 miljoen
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 09/02/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Regshulpkliniek sal voortgaan om toegang te bied tot gratis, doeltreffende regsdienste van gehalte, om namens plaaswerkers teen onwettige uitsettings te baklei, om regstudente die geleentheid te bied om in 'n kliniese omgewing praktiese vaardighede op te doen, en om ononderbroke navorsing oor die uitsettingsreg te doen – alles danksy die ondersteuning van vennote soos die Claude Leon-stigting.

Die Claude Leon-stigting ondersteun die Regshulpkliniek reeds sedert 2007 en het onlangs die voortsetting van hierdie steun aangekondig met 'n toekenning van R1 miljoen oor twee jaar vanaf 2018.

Hierdie Suid-Afrikaanse liefdadigheidstrust is al langer as 30 jaar 'n waardevolle vennoot van die US en het reeds meer as R45 miljoen tot onder andere nadoktorale genootskappe, merietetoekennings vir dosente, honneursbeurse en die uitbreiding en bedrywighede van die Regshulpkliniek bygedra.

Die stigting het in 1962 uit 'n bemaking deur Claude Leon (1884–1972) ontstaan. Leon was die stigter en besturende direkteur van die Elephant Trading Company en het verskeie groot Suid-Afrikaanse maatskappye, onder meer Anglovaal, OK Bazaars en Edgars, op die been help bring en gefinansier.

Die Claude Leon-stigting ondersteun projekte wat met sy vyf strategiese temas strook: die bou van navorsingsvermoë in die hoër onderwys, die ondersteuning van innovasie in onderrig, vroeëkindontwikkeling, die verdediging van demokrasie, en die skep van geleenthede vir skoolverlaters.

“Ons bedank die Claude Leon-stigting vir hulle voortgesette ondersteuning van en belegging in wat ons doen. Ons waardeer werklik die stigting se beduidende en volgehoue bydrae tot die Regshulpkliniek en die gemeenskap wat ons dien," het mnr Theo Broodryk van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid gesê.

“Omdat ons hulle werk as baie belangrik beskou, is ons verheug om ons noue verbintenis met die Regshulpkliniek voort te sit," het mnr William (Bill) Frankel (OBE), voorsitter van die stigting, gesê.

Op die web: