Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kapenaars lees nie inligting op voedseletikette
Outeur: Alec Basson [Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie]
Gepubliseer: 07/02/2018

Kapenaars weet maar bra min oor voedingsinligting op voedseletikette, het 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) bevind.

“Kaapse verbruikers het gebrekkige kennis van voedsel- en voedingsetikette en die inligting op voedseletikette het nie 'n groot invloed op wat hulle koop nie," sê dr Nelene Koen, 'n dosent in die Afdeling Menslike Voeding in die Fakulteit Geneeskunde en GesondheidsWetenskappe aan die US. Koen het onlangs haar doktorsgraad in Voedingswetenskappe aan die US behaal.

Sy het verbruikers se kennis én lees van voedingsinligting op voedseletikette ontleed en probeer vasstel watter  faktore hul koopgedrag beïnvloed en waarom hulle die voedingsinligting ignoreer of lees. Verder het Koen gekyk na hul verwagtinge en oënskynlik hindernisse rakende voedingsinligting op voedseletikette, asook die aanvaarbaarheid en toepaslike ontwerp van 'n enkele gesondheidsonderskryfde logo (oftewel health endorsement logo) vir produkte wat as gesonder keuses geld soos gebaseer op die Suid-Afrikaanse model vir die profiel van produkte se voedingstowwe.

Eerste studie

Dit was die eerste studie oor Kaapse verbruikers se kennis rakende voedingsinligting op voedseletikette. Die meeste navorsing oor voedsel- en voedingsetikettering in Suid-Afrika is in Gauteng en Noordwes gedoen, met die uitsondering van een nasionale studie.Nelene Koen.jpg

Die etiket van 'n bekende Suid-Afrikaanse ontbytgraan is gebruik om 960 geletterde volwasse verbruikers se kennis van voedseletikette te bepaal. Dié verbruikers het meestal hul huishoudings se kos gekoop. Onderhoude is met hulle by 16 geselekteerde kruidenierswinkels stadswyd gevoer wanneer hulle die winkels binne gegaan en verlaat het. Hulle is gevra om inligting op die etiket op te spoor, aansprake en simbole te identifiseer, en voedingsinligting op die etiket te interpreteer en te bereken.

Nege fokusgroepbesprekings is ook met sommige deelnemers uit hierdie groep verbruikers gehou oor die faktore wat hul koopgedrag beïnvloed en die redes hoekom hulle voedingsinligting op voedseletikette ignoreer of lees. Tydens die besprekings kon verbruikers die tipes gesondheidsonderskryfde logo's aandui wat hulle verkies en kommentaar lewer op die algehele ontwerp van nuwe logo's, die gebruik van kleure, simbole, bewoording en hul begrip van bestaande internasionale en Suid-Afrikaanse gesondheidsonderskryfde logo's  (bv. Die Sweedse groen sleutelgat, die hartteken van die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika, en so meer).

Hierdie inligting is gebruik om tien logo's te ontwerp en te evalueer waarvan die beste drie geïdentifiseer en aan die Direktoraat Voedselbeheer van die Departement van Gesondheid voorgelê is vir oorweging en implementering ná verdere toetse. Die doel is om uiteindelik een logo te kies wat op voedselprodukte gebruik kan word. Die Direktoraat is oorhoofse verantwoordelik vir die publikasie en wysiging van die land se etiketteringswetgewing.

Inligting te kompleks en tegnies

Koen sê die studie het bevind dat net meer as een derde (36.0%) van die 960 verbruikers aangedui het dat hulle gereeld/altyd voedingsinligting op voedseletikette lees.

“Die hoofredes waarom baie verbruikers nie voedingsinligting op voedseletikette lees nie, sluit in die feit dat hulle altyd dieselfde produk koop, 'n gebrek aan belangstelling en tyd om die inligting te bestudeer, bekommernisse oor prys en ʼn gebrek aan vertroue in inligting oor voedseletikettering."

Koen sê sommige verbruikers het gevoel dat die voedingsinligting op voedseletikette misleidend was en dat vervaardigers hulle probeer mislei het.

“Verbruikers het ook gesukkel om die komplekse voedingsinligting op voedseletikette, spesifiek die tabel met voedingsinligting, te verstaan."

“Baie kon nie inligting op die etiket opspoor nie. Hulle het gesê die etiket is te besig, die inligting is soms moeilik is om te vind, en die lettergrootte te klein. Verbruikers het ook gesukkel om berekeninge te doen deur  van die tabel met voedingsinligting gebruik te maak. Hulle het eerder die produk se voedings- en gesondheidaansprake soos lae vet; laag in sodium, en so meer verkies. Verder was die lys van bestanddele vir hulle te kompleks en baie tegnies."

Koen sê wanneer verbruikers 'n produk koop, kyk hulle na die prys, vervaldatum en of dit op promosie is.

“Voedselpryse was soms die enigste oorweging wanneer produkte gekoop word, ongeag hul kwaliteit en voedingswaarde. Vir sommige verbruikers was smaak, handelsmerk-lojaliteit, bemarking en gerief belangrik, terwyl ander deur familie, kultuur en godsdiens beïnvloed is."

Wat 'n enkele gesondheidsonderskryfde logo betref, wys Koen daarop dat verbruikers logo's verkies wat eenvoudig en helder is en 'n direkte verband met gesondheid en/of voeding het.

“Helder, duidelike kleure, 'n boodskap wat maklik leesbaar en verstaanbaar is (wat die woorde 'gesonde keuse' bevat) en 'n logo wat op 'n 'besige' etiket die aandag kan trek, is almal as belangrike eienskappe van die ontwerp van 'n  gesondheidsonderskryfde logo genoem."

“Baie verbruikers het gesê die gebruik van 'n enkele logo wat sou aandui 'n produk is 'n 'gesonde keuse' sou dit makliker maak om die 'gesondheidswaarde' van 'n produk te evalueer."

Opvoedingsveldtogte

Koen sê opvoedingsveldtogte wat verbruikers leer hoe om voedingsinligting op voedseletikette te gebruik om gesonde koskeuses te maak, moet aangepas word volgens die behoeftes van verskillende verbruikers.

“ ʼn Beter begrip van hoe verbruikers met voedingsinligting op voedseletikette omgaan is nodig om aanbevelings te maak vir die verbetering van opvoedingsveldtogte om verbruikers te help om gesonder koskeuses te maak."

Koen sê die voedselbedryf moet opnuut op die ontwerp en uitleg van voedseletikette fokus en met die Departement van Gesondheid saamwerk om voedselregulasies korrek toe te pas en voedingsinligting op voedseletikette te verskaf wat op verbruikers se voorkeure en verwagtinge gebaseer is.

“Dit kan help om die huidige etiketteringswetgewing wat die verbruiker teen misleidende inligting wil beskerm te verbeter en te vereenvoudig."

Koen beklemtoon die belangrikheid van hierdie navorsing en sê voedingsetikettering word beskou as 'n belangrike komponent van omvattende strategieë om ongesonde diëte en gepaardgaande nie-oordraagbare siektes te takel. Dié siektes kan tot meer sterftes onder volwasse Suid-Afrikaners tussen 30 en 70 jaar oud lei.

Sy sê soortgelyke studies is nodig in ander provinsies of op nasionale vlak, en spesifiek in landelike gebiede.

  • Hooffoto: Produkte in kruidenierswinkel (krediet: Pixabay).
  • Foto 1: Dr Nelene Koen

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Nelene Koen

Afdeling Menslike Voeding

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 938 9256

Sel: 0823718029

E-pos: nelene@sun.ac.za

                                  UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za