Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CAN hou eerste wetenskapsimposium op Stellenbosch
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 05/02/2018

Die Crick Afrika Netwerk (CAN), bestaande uit ʼn groep van vyf Afrika-vennootinstellings waarvan die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn lid is, het onlangs (26-28 Januarie 2018) 'n unieke wetenskapliksimposium oor 'Basic Science of Infectious Diseases in Africa' by Spier, Stellenbosch gehou. Dit is gesamentlik deur die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Crick-instituut in Londen, sowel as die US, aangebied en het  spesialiste in wetenskap en tegnologie by die Crick-instituut sowel as kundiges van beide die US en die UK byeengebring.

Die simposium het 'n integrale deel gevorm van CAN se aktiwiteite wat ten doel het om die volgende generasie navorsingsleiers in Afrika op te lei om die dringendste siektes op die vasteland te help genees. Vir hierdie doel sal 18 gesogte nadoktorale genootskappe oor die volgende vier jaar toegeken word, wat studente sal toelaat word om een jaar by die Crick-instituut en een jaar by hul onderskeie Afrika-vennootskapsinstellings te spandeer.

“Die simposium was baie waardevol aangesien dit verskeie aspekte uniek aangespreek het, wat in die volgende vier jaar bevorder sal word. Dit skep ook 'n unieke opleidingsgeleentheid vir die bou van kennis rondom byvoorbeeld gevorderde beeldtegnieke wat van kritieke belang is om op hoogte te bly van die jongste ontwikkelings," sê dr Ben Loos, hoof van die neuro-navorsingsgroep in die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe en een van die hoofvennote van CAN.

Prof Eugene Cloete, Viserektor vir Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, het in sy openingstoespraak die belangrike rol van tegnologie en innovasie asook nagraadse genote om Afrika se unieke uitdagings aan te spreek beklemtoon. Prof Valerie Mizrahi, Direkteur van die Instituut vir Infeksiesiektes en Molekulêre Geneeskunde  by die UK, het die rol van die wetenskap in die bestuur van die ekonomie van 'n land benadruk. Wetenskaplikes aan die US en die UK het oor hul Tuberkulose-navorsing gepraat en gewys op die belangrikheid van veral gevorderde beeldingstegnologie om hierdie veld te bevorder.

Die simposium is gevolg deur 'n tweedaagse werkswinkel wat gefokus het op die skryf en aanbieding van navorsingsvoorstelle wat globaal-mededingend. Gesprekke oor beroepsvoorligting was ook deel van die werkswinkel. Die unieke interaksie tussen personeellede, insluitend internasionale en plaaslike kundiges en nagraadse genote, het gelei tot die ontwerp en aanbieding van navorsingsvoorstelle wat hoogs-mededingend, afgerond, statisties-betroubaar en oortuigend is.

Soortgelyke simposiums sal in die volgende paar maande by die ander vennootinstellings aangebied word, waarna aansoeke vir nadoktorale genootskappe sal open.

Foto: Wetenskaplikes by die CAN-simposium.