Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot finansiële inspuiting vir navorsing oor infeksiesiektes in Afrika
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 10/08/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) is een van vyf instellings in Afrika wat voordeel trek uit 'n skenking van byna R102 miljoen (£6 miljoen) uit die Verenigingde Koninkryk se Global Challenges Research Fund om infeksiesiektes in Afrika te bekamp, in samewerking met die Francis Crick Instituut in London.  

Die sogenaamde Crick Afrika Netwerk is een van verskeie soortgelyke projekte in die ontwikkelende wêreld wat uitgekies is om voordeel te trek uit “een van die mees ambisieuse internasionale navorsingsprogramme tot nog toe". Volgens 'n mediaverklaring uitgereik deur die Research Councils UK (RCUK), is 'n totaal van £225 miljoen (die ekwivalent van R3,8 biljoen) belê in 37 interdissiplinêre projekte ten einde die uitdagings op die gebied van gesondheid, humanitêre krisisse, konflik, die omgewing, die ekonomie, huishoudelike geweld, die samelewing en tegnologie die hoof te bied.

In 'n inisiatief om die volgende generasie navorsingsleiers in Afrika te kweek, sal die Crick Afrika Netwerk twee jaar van intensiewe opleiding en mentorskap aan suksesvolle nadoktorale wetenskaplikes uit Afrika bied. Studente sal een jaar by die Francis Crick Instituut in London spandeer, en die tweede jaar by hul onderskeie Afrika-vennootskapsinstellings.

Die ander Afrika-vennote is die Universiteit van Kaapstad, Uganda se Instituut vir Virusnavorsing, die Universiteit van Ghana en die Mediese Navorsingsraad se eenheid in Gambië (wat die West African Global Health Alliance  verteenwoordig).

Dr. Ben Loos, hoof van die neuronavorsingsgroep in die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe en een van die hoofvennote, sê hulle is verheug deur die aankondiging: “Oor die volgende vyf jaar sal die projek 'n groot bydrae maak in die opbou van 'n netwerk van hoogs gespesialiseerde navorsingsgroepe regoor Afrika. Dit sal unieke geleenthede bied ten opsigte van vaardigheidsontwikkeling en opleiding van top wetenskaplikes met 'n primêre fokus op tuberkulose, malaria en MIV, sowel as infeksieverwante patologieë wat relevant is tot ons onmiddellike en landspesifieke behoeftes."

Die ander hoofvennoot by die US is prof. Gerhard Walzl, 'n spesialis op die gebied van TB-weerstandighed in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika in die US se Fakulteit Mediese en Gesondheidswetenskappe. Die projekleier is prof. Robert Wilkinson, direkteur van die Wellcome Sentrum vir Navorsing oor Infeksiesiektes in Afrika by die Universiteit van Kaapstad.

Die Crick- en Afrika-vennote sal reeds vanjaar werkswinkels aanbied om die genootskapskema te bevorder en potensiële aansoekers help om goeie navorsingsvoorstelle te skryf. Daarna sal die aansoekproses begin waarna ses genote in Julie 2018 gekies sal word. Daarna sal nog twaalf navorsers op dieselfde wyse  gewerf word tydens twee daaropvolgende geleenthede.

Dr. Gordon Awandare, koördineerder van die projek by die Universiteit van Ghana, sê hierdie fondse  sal Afrika help om hulle wetenskaplikes op Afrika-bodem te hou: “Ons nadoktorale genote het nou 'n fantastiese geleentheid om met uitsonderlike wetenskaplikes by die Crick Instituut saam te werk, met toegang tot van die beste navorsingsgeriewe ter wêreld. Die  beteken ook dat Afrika hierdie navorsers  sal behou en dat dit vir hulle moontlik sal wees om onafhanklike, suksesvolle navorsingsloopbane by toonaangewende navorsingsinstellings op hierdie kontinent te vestig."

 

Medianavrae

Dr. Ben Loos

Departement Fisiologiese Wetenskappe

T: +27_21 808 9196

E: bloos@sun.ac.za

 

Mnr. Simon Wesson

RCUK Mediabeampte

simon.wesson@rcuk.ac.uk

01793 444067

Ter agtergrond

  • Research Councils UK (RCUK) is die strategiese vennoot van die VK se sewe Navorsingsrade.
  • Die Global Challenges Research Fund is £1.5 biljoen sterk en ondersteun navorsing wat ontwikkelende lande se uitdagings die hoof probeer bied.
  • Meer besonderhede oor die 37 projekte is beskikbaar in die brosjure: Growing research capability to meet the challenges faced by developing countries
  • Vir meer inligting oor die projekte, kontak asseblief die betrokke instelling se projekspanlid.

 

Onderskrif

Navorsers sal byvoorbeeld gedurende hierdie projek opgelei word in die nuutste molekuêre beeldingstegnieke. Die mikroskopiese beeld hierbo toon die verskil tussen 'n makrofaag wat deur tuberkulose geïnfekteer is (links) en 'n gesonde sel (regs). Foto verskaf deur Naomi Okugbeni, Dr Ben Loos en Dr Craig Kinnear van die Universiteit Stellenbosch.