Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerstejaarstudente in gesondheids-wetenskappe as ‘pioniers’ verwelkom
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 26/01/2018

​Getrou aan sy toewyding tot vernuwing en uitnemendheid in die onderrig van gesondheidswetenskappe, het die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) sy eerstejaarstudente bekend gestel aan die onderneming wat sy voorgraadse studente voortaan met die aanvang van hul opleiding gaan aflê – ʼn eerste vir dié universiteit.

Dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak van die FGGW, het dié onderneming tydens die verwelkomingsplegtigheid op die Tygerberg-kampus, tuiste van die FGGW, aan studente, hul gesinne en die res van die Fakulteit se administrasie bekend gestel. In die gees van die FGGW se visie om gesondheid en gelykheid in Suid-Afrika te bevorder, is die onderneming in al 11 amptelike tale, asook in gebaretaal, voorgedra.  

“Soos julle weet, lê ons as gesondheidsdeskundiges ʼn eed af nadat ons ons opleiding voltooi het. Die eed is oor die jare heen toepaslik vir elkeen van ons programme aangepas. Met die bekendstelling van hierdie onderneming aan die begin van jul opleiding is julle, die eerstejaars van 2018, pioniers aan ons universiteit," het Fish gesê. Sy het bygevoeg dat gesondheidsdeskundiges te alle tye aan hierdie onderneming toerekenbaar gehou moet word. Kliek hier om die FGGW se Voorgraadse Studente-onderneming te lees.

Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, het sy verwelkomingstoespraak begin met ʼn opmerking oor die waterverknorsing in die Wes-Kaap. “Julle kan julle net indink hoe ontwrigtend dit vir ons plaaslike gemeenskap, met inbegrip van hierdie kampus, sal wees as die krane sou opdroog." Hy het die eerstejaarstudente gevra om die FGGW met sy droogte-reaksieplan te help in ʼn poging om “Dag Zero" af te weer.

Volmink het gesê die FGGW is die mees komplekse en een van die grootste fakulteite van die US. “Ons studente is van die slimste en hardwerkendste en is hier omdat hulle ʼn verskil in die wêreld wil maak deur gesondheid te bevorder, siektes te behandel en lyding te verlig."

Hy het benadruk dat, as een van die noodsaaklikste beroepe van die 21ste eeu, grade in geneeskunde en gesondheidswetenskappe lank en veeleisend is en een van die uitdagendste en mededingendste reise is wat onderneem kan word. “Julle teenwoordigheid hier vandag is derhalwe ʼn merkwaardige prestasie."

Altesame 440 nuwe voorgraadse geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente het die afgelope week by die US se Tygerberg-kampus aangemeld. Sowat 270 nuwe studente het vanjaar vir die MB,ChB-program (medies) ingeskryf en 60 vir ʼn BSc in fisioterapie. Nog 40 studente het vir BSc-dieetunde ingeskryf, 55 vir ʼn B-graad in arbeidsterapie en 35 vir ʼn B-graad in spraak-, taal- en gehoorterapie.  

Tevarus Naicker, voorsitter van die Tygerbergse Studenteraad, het die studenteraad vir 2018 bekend gestel en in sy relevante toespraak besin oor “die lewe as ʼn gesondheidswetenskappestudent".  Volgens hom het hy Instagram geraadpleeg om die regte advies vir die eerstejaars te vind. Van die brokkies raad waarmee hy vorendag gekom het, het ingesluit: “Praat met nuwe mense"; “Vra hulp"; “Beskerm jou gemoed"; en “Onthou, hierdie is nie ʼn episode van Grey's Anatomy nie … niemand het daardie tipe drama nodig nie." ​​​