Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente entoesiasties oor 100-uur uitdaging
Outeur: Frieda le Roux
Gepubliseer: 13/12/2017

“Die 100-ure gemeenskapsdiens wat op my universiteitsuitslae gemeld word vertel aan toekomstige werkgewers van my karakater en my liefde vir gemeenskapsdiens. Die 100 ure sal die res van my lewe deel wees van my en is daarom vir my van besonders.”

Ricardo Smart, wat pas sy meestersgraad in mikrobiologie voltooi het, is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n student wie se akademiese opleiding slegs een element van ‘n “volronde belewenis” aan die Universiteit Stellenbosch is. Om “betrokke lands​burgers en verantwoordelike leiers op te lei, wat bereid is om hul kundigheid en vaardighede tot diens van die samelewing te stel” (aldus die US-webwerf), is diensleer en gemeenskapsinteraksie belangrik tot ‘n student se jare op die Matie-kampus.

Die 100-uur uitdaging wat Matie Gemeenskapsdiens aan studente rig, behels dat ‘n student binne ‘n jaar 100 ure diens verrig by een van die projekte wat deur die MGD gefassiliteer word. Volgens Michelle Pietersen, Senior Programbestuurder by MGD, dien leiers van koshuise en verenigings reeds in Augustus en September planne in oor moontlike projekte. Michelle sê die gemeenskapskonteks is baie belangrik. “Ons het gesien, oor die jare, dat die studente eers die behoeftes in die gemeenskap moet identifiseer, sodat hulle bydrae werklik ‘n sosiale impak maak. Anders het dit nie veel waarde nie en bou dit ook nie verhoudings nie.” Die MGD sal dan die projekte pas by wat die onderskeie studente meen hulle kan bydrae.

Michelle beskryf die MGD as ’n “hub” vir vrywilligers. “Ons bestuur nie net die studente-vrywilligersprogramme nie, maar ons sal ook fassiliteer, opleiding gee en help om die regte mense bymekaar te pas.” Sy sê ‘n projek, en die studente se betrokkenheid, moet al die betrokke partye baat, wat weer help om respek tussen mense te bou.

Ntsiki Langa, met ‘n graad in molekulêre biologie en biotegnologie asook ‘n nagraadse diploma in bemarking, is onlangs aangestel as die werwings- en bemarkingsbeampte van die Fakulteit Natuurwetenskappe. Sy vertel hoe haar 100-ure gehelp het om’ n verskil te maak by Phakama Sekondêre Skool in Philippi en die omliggende omgewing. “Toe ek begin het, het ek gedink ek gaan die mense leer wat ek weet – maar dit het baie vinnig verander toe ek meer kry uit die interaksie as wat ek gehad het om aan te bied. En dis wat ek met my saamneem: In elke situasie is daar ‘n geleentheid om van die volgende persoon te leer, as jy jouself toelaat.”

Studente self kan besluit hoeveel ure se gemeenskapsdiens hulle oor ‘n jaar (1 September – 31 Augustus) kan insit. Vir dié wat 50 of 75 ure voltooi, word daar ‘n sertifikaat gegee. Maar wanneer ‘n student 100 ure voltooi, word dit op hul amptelike jaar-uitslae (‘transcripts’) aangebring. “So ver ek weet is ons die enigste universiteit in SA wat dit doen,” sê Michelle, en vertel dat dit vyf jaar geneem het om dit formeel deur die regte kanale te laat goedkeur.

“Dit is die Universiteit se manier om studente se bydrae buite klasverband te erken. Dit vorm deel van die kweek van ‘n volronde mens.”