Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe om te registreer
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 08/12/2017

Daar is twee verskillende maniere beskikbaar waarvolgens jy amptelik as student van die Universiteit in Januarie 2018 kan registreer.

Dit is as volg:

  • Selfregistrasie (e-registrasie)
  • Registrasieproses in NARGA op die Stellenbosch-kampus, of GERGA op die Tygerberg-kampus vir studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Indien jy die Nasionale Senior Sertifikaat of die IEB-sertifikaat verwerf het, sal jy van selfregistrasie gebruik kan maak.

Kandidate uit ander skoolstelsels kan nie self registreer nie. Dit sal wel baie nuttig wees indien kandidate uit ander skoolstelsels hulle finale skooluitslae, asook die sertifikaat van universiteitsvrystelling wat by die SA Matrikulasieraad verkry moet word, indien dit reeds verkry is, kan stuur na info@sun.ac.za. Jou studentenommer moet daarmee saam verskaf word.

Kennisgewing oor registrasie:

Dit is belangrik dat jy die kennisgewing oor registrasie wat die Registrateur van die Universiteit afsonderlik voor die einde van die jaar per e-pos aan jou sal stuur, deeglik lees.

Al die inligting wat jy benodig om te besluit of jy van selfregistrasie gebruik wil maak, en of jy eerder gedurende die verwelkomingsprogram in NARGA (GERGA op Tygerberg-kampus) wil kom registreer, sal in die kennisgewing verskaf word. Al die nodige datums, tye, dokumentasie benodig en ander belangrike inligting sal in die kennisgewing verskaf word.

Selfregistrasie van eerstejaarstudente:

Selfregistrasie van eerstejaarstudente kan vanaf 12 Januarie tot die tydgleuf wat hulle in NARGA of GERGA moet registreer, plaasvind.

Selfregistrasie kan gedoen word vanaf enige rekenaar met internettoegang op www.maties.com. Ons wil jou graag sterk aanmoedig om hierdie opsie te gebruik.

Studentekaart:

Jy sal jou studentekaart in die Studentesentrum (Neelsie) op Stellenbosch in die tydgleuf wat vir jou fakulteit se registrasie in NARGA bepaal is, of in GERGA indien jy op Tygerberg is, moet gaan kry.​

NARGA of GERGA  registrasie:

Indien jy nie van selfregistrasie kan of wil gebruik maak nie, moet jy die kennisgewing oor registrasie wat voor die einde van die jaar per e-pos aan jou gestuur sal word, deeglik lees om te verseker dat jy op die regte dag en tyd by NARGA of GERGA vir registrasie aanmeld en al die nodige dokumente byderhand het (kyk verder aan vir dokumente wat vereis word).

  • GERGA-registrasie vir Tygerberg-kampus vind plaas op Vrydag 26 Januarie
  • NARGA-registrasie vir Stellenbosch-kampus per fakulteit, ingedeel in tydgleuwe,  vind plaas op Maandag 29 en Dinsdag 30 Januarie

Let asseblief daarop dat eerstejaarstudente wat nie op hierdie datums geregistreer het nie en spesiale toestemming kry om nog te mag registreer (die program waarvoor jy wil registreer mag dalk reeds vol wees), later in die week saam met die senior studente van hulle fakulteit in NARGA moet registreer. Eerstejaarstudente wat later as dit registreer, sal 'n heffing van R500 moet betaal, met dien verstande dat hulle betyds toestemming by die betrokke Fakulteitsadministrateur gekry het om laat te registreer.

Indien jy nie van selfregistrasie gebruik gaan maak voordat jy op Stellenbosch of Tygerberg aanmeld nie, is dit jóú verantwoordelikheid om seker te maak dat jy aan al die toelatingsvereistes van jou studieprogram voldoen vóór jy na Stellenbosch vertrek. Indien jy in NARGA of GERGA gaan registreer, moet jy die volgende oorspronklike dokumente toon wanneer jy in jou fakulteit se geskeduleerde registrasie-tydgleuf daar aanmeld:

  • Uitslagadvies van die 2017 NSS- of IEB-skooleindeksamen.
  • NSS- of IEB-kandidate wat in 2016 of vroeër gematrikuleer het: Nasionale Senior Sertifikaat.
  • Kandidate uit ander skoolstelsels: skooleindsertifikaat/e en universiteitvrystellingsertifikaat uitgereik deur die SA Matrikulasieraad.
  • Kandidate wat by ander universiteite studeer het: Die dokument/e by 2 of 3 hierbo genoem, sowel as 'n volledige studierekord en bevredigende gedragsertifikaat van die betrokke universiteit.
  • Indien jy nie 'n Suid-Afrikaanse burger is nie: 'n geldige studiepermit.

Let asseblief op die kennisgewing oor die aflê van die Nasionale Normtoetse.