Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser bevind melkboere kan geld maak sonder om die omgewing te skaad
Outeur: Alec Basson / Corporate Communication
Gepubliseer: 07/12/2017

Suid-Afrikaanse melkboere hoef nie die omgewing te skaad om finansieel kop bo water te hou nie. Hulle kan hul impak op die omgewing verminder en steeds ʼn wins maak.

Dit is van die vernaamste bevindinge van 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Dit is moontlik om beide die doelwitte van verminderde omgewingsimpak en optimale wins op weidingsgebaseerde melkplase met dieselfde plaasstelsel en dieselfde praktyke te bereik," sê dr Craig Galloway van Trace & Save by die Woodlands Dairy Sustainability-projek in Humansdorp  in die Oos-Kaap.

Galloway het Woensdag (6 Desember) sy doktorsgraad in Bewaringsekologie by die US se vyfde gradeplegtigheidseremonie van Desember 2017 verwerf.  Sy studieleiers was prof Karen Esler en dr Heidi Prozesky van onderskeidelik die Departement Bewaringsekologie en Entomologie en die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie aan die US, asook dr Beatrice Conradie van die Universiteit van Kaapstad.

​Vier US-studente ontvang doktorsgrade vir navorsing oor melkboerdery

Galloway was een van vier studente in die US se Fakulteit AgriWetenskappe wat hul doktorsgrade ontvang het vir navorsing wat met melkboerdery verband hou. Lobke Steyn het ʼn PhD in Veekunde ontvang vir haar studie oor hoe vrugte-byprodukte soos droë sitruspulp en appelpulp as alternatiewe voeding vir Jersey-koeie benut kan word.Dairy-group.jpg

Brink van Zyl se navorsing beklemtoon die variasie in Suid-Afrikaanse mielies met betrekking tot die verharding van mieliepitte. Hy het gewys dat dit die tempo waarteen stysel verteer word beïnvloed. Brink het ʼn voorspellingsmodel ontwerp wat in dierevoeding gebruik kan word om die akkuraatheid van dinamiese voedingsformuleringsprogramme te verbeter.

ʼn Doktorsgraad in Veekunde is ook aan Bilungi Useni toegeken. Hy is die eerste Kongolese student om ʼn PhD in die Fakulteit AgriWetenskappe te verwerf. Useni se navorsing het getoon hoe stysel en vet as energie-aanvullings gedurende die oorgansperiode en gedurende vroeë soging in Holstein-koeie benut kan word om hul melkproduksie en voortplanting te verbeter.

Bestuur van ʼn volhoubare melkplaas

Galloway het navorsing gedoen oor volhoubare landboupraktyke op melkplase in die Oos-Kaap - die grootste melkproduserende provinsie in die land. Hy wys daarop dat 65 plase by sy opname oor persepsies rakende volhoubare landbou ingesluit is en dat data van 43 plase ingesamel is om die omgewingsimpak en ekonomiese doeltreffendheid te bepaal.

Galloway sê hoewel daar baie oor volhoubare landbou gepraat word, is geen wydverspreide aanvaarding van volhoubare praktyke nie.

“Daar is baie min navorsing oor plase rakende die uitdagings rondom volhoubare praktyke, die voordele van volhoubare praktyke, en die plaasstelsels wat nodig is om volhoubare landboudoelwitte te bereik."

As deel van sy studie het Galloway gefokus op boere se persepsies van volhoubare landbou en die mate waartoe hulle volhoubare praktyke op hul plase toegepas. Hy het ook sommige van die omgewingsimpakte wat met melkboerdery geassosieer word geëvalueer deur elke plaas se koolstofvoetspoor en die effektiewe gebruik van voedingstowwe te bereken.  Verder het Galloway die ekonomiese doeltreffendheid van melkplase ondersoek en dit met maatreëls oor omgewingsimpak vergelyk.

Galloway sê hy wou die omvang van omgewingsimpakte wat met melkboerdery in die Oos-Kaap gepaardgaan beter verstaan en ook vasstel of daar plase was waar die impak laer was en, indien ja, hoe hulle dit reggekry het. Om dit te kon doen, het hy op weidingbestuur en aspekte van die grond se gesondheid in weidingsgebaseerde melkboerdery gefokus.

“Ek wou ook bepaal of die doelwitte van winsgewendheid en verminderde omgewingsimpak saam bereik kan word, en indien wel, watter plaasstelsel het dit tot gevolg gehad het."

“My navorsing het getoon dat boere niks aan finansiële winsgewendheid hoef in te boet as hulle die omgewingsimpak van hul praktyke wil verlaag nie."

“Ek het ook gevind dat boere baie positief is en oop is vir die idee van volhoubare landbou. Die uitdaging lê in die implementering van volhoubare praktyke."

Galloway het drie hoofareas van plaasbestuur geïdentifiseer waarop boere behoort te fokus om hul melkplaasstelsels meer volhoubaar te maak.

“Eerstens moet hulle verseker dat die plaas genoeg voorraad het om melkproduksie op beskikbare grond te vermeerder sonder om te veel kunsmis en voer te gebruik."

“Tweedens moet boere die gesondheid van die grond beter bestuur omdat dit die behoefte aan kunsmis verminder, en derdens moet hulle weidingsbestuur verbeter wat die behoefte aan ingevoerde voer verminder."

Die uitdaging vir boere is dat dit meer aktiewe bestuur vereis en deur dit te doen kan boere die impak op die omgewing verminder en hul winsgewendheid verhoog, sê Galloway.

Hy wys daarop dat dit belangrik is om die beduidende omgewingsimpakte wat met melkproduksie op melkplase verband hou aan te spreek. Dit kan egter nie ten koste van boerdery en die mense wat op hierdie bedryf staatmaak gebeur nie.

“Ekonomiese, omgewings- en maatskaplike doelwitte moet bereik word om volhoubaarheid ʼn werklikheid te maak, en dit is die beste benadering om die uitdagings wat met melkboerdery gepaardgaan, aan te spreek."

Die belangrikheid van landbou in terme van voedselsekuriteit, die bydrae tot die ekonomie, en as 'n bron van werk, veral in landelike gebiede, beteken dat die langtermyn sukses daarvan afhang van die implementering van volhoubare praktyke."

Galloway sê sommige bevindinge van sy studie kan ook op melkboerdery in die meeste wêrelddele sowel as op verskillende soorte boerdery toegepas word.

  • Hooffoto: Dr Craig Galloway by die gradeplegtiheidseremonie.
  • Foto 1: Drs Brink van Zyl, Bilungi Useni, Lobke Steyn en Craig Galloway ná afloop van die seremonie.
  • Fotograaf: Stefan Els

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Graig Galloway

Trace & Save, Jeffreysbaai

Woodlands Dairy, Humansdorp

Tel: 0823160680

E-pos: craig@traceandsave.com

 

                                     UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za