Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eers vorentoe, toe agtertoe oppad na PhD toe
Outeur: Alec Basson / Corporate Communication
Gepubliseer: 06/12/2017

“Ek het maar redelik onlangs… die afgelope jaar… besef die eindpunt is haalbaar.  Hoewel ek heeltyd gemotiveerd was, was daar ewe veel treë agtertoe as vorentoe.  Dit voel steeds soos om op die wolke te loop as ek smiddae huistoe ry en besef ek het nie een of ander knelpunt wat ek moet oorbrug nie."

Dít is hoe ʼn opgewonde Dr Viljoen van der Walt, Direkteur: Risikobestuur en Kampussekuriteit aan die Universiteit Stellenbosch (US), Woensdag (6 Desember) sy PhD-reis beskryf het. Van der Walt het sy doktorsgraad in Besigheidsbestuur en Administrasie by die US se vierde gradeplegtigheidseremonie van Desember 2017 ontvang.

Viljoen was onder die 847 studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep A) aan wie grade, diplomas en sertifikate toegeken is. Altesaam 1664 studente (Groep A en B) in die Fakulteit gradueer vandeesweek – die  meeste nog vir die Fakulteit by 'n Desember-gradeplegtigheid. Verlde jaar was dit 1495 studente. Uit die rekordgetal 379 HonsBRek-studente wat vanjaar by die die Skool vir Rekeningkunde ingeskryf het, ontvang 208 hul grade hier week.

Van der Walt het navorsing gedoen oor hoe die kernelemente van risikobestuur deel van strategie formuleringsprosesse by veral universiteite gemaak kan word.

Hy het gesê hy is dankbaar vir die bystand van sy gesin, studieleiers, lynhoof, Nicolette van den Eijkel, en in besonder sy kollegas by Kampussekuriteit. “Hulle het geweet wanneer om aan te moedig en ook wanneer om stille ondersteuning te bied."

Dit is veral sy vrou Jolene wat ʼn spesiale woord van dank verdien, het Van der Walt bygevoeg.

“Ek is bevoorreg om met 'n laerskooljuffrou getroud te wees. Sy werk elke aand tot wie-weet-watter tyd.  Deur my honneurs, MBA en PhD was sy nog altyd saans later as ek met haar skoolwerk doenig.  Ons is dus al die jare gewoond aan die 'aandskof' van agtuur tot middernag."

Hoewel Van der Walt uit verskillende oorde ondersteuning ontvang het, het dit aanvanlik geknor om ʼn studieleier te vind.

“Daar is baie min studieleiers op die gebied van risikobestuur in Suid-Afrika. Na heelwat rondvallery en twee keer voor begin, was profs Jackie Young van UNISA en Eon Smit van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool as onderskeidelik studieleier en medestudieleier aangewys.  Ek het toe eers, na etlike jare, vordering begin toon."

“Net toe ek egter momentum begin kry, het die protesaksies by die US uitgebreek en my momentum gebreek," het Van der Walt gesê.  Van der Heever.jpg

Ook onder graduandi was Randall van der Heever wat sy BRek-graad verwerf het. Van der Heever was in 2016 een van die eerste ontvangers van die Russel Botman Beurs.

“Die Botman-beurs het my gerus gestel om 'n droom wat 'n paar jaar gelede so onrealisties gelyk het na te streef. Dit voel soos gister toe hierdie dieselfde beurs my lewe verander het op 'n manier wat ek nooit sou kon dink nie. Ek het 'n droom gehad, en danksy die Botman-beurs, is dit vandag 'n realiteit," het Van der Heever gesê.

​Hy gaan volgende jaar sy BRek Honneurs doen.

Die Kanselier van die US, dr Johann Rupert, het die nuwe graduandi gelukgewens en hulle aangemoedig om ʼn bydrae tot radikale ekonomiese groei wat eweredig versprei kan word te lewer.

“Hou aan leer want as julle ophou gaan julle agter gelaat word. Bly nuuskierig en betoon empatie aan jul medemens en die planeet. Met empatie en nuuskierigheid sal julle ver kom," het hy gesê.

Manie Lombard (Afdeling Finansies), Anita Nel (INNOVUS en Kommersialisering) en Japie Kotze (Menslike Hupbronne) is by dieselfde plegtigheidseremonie Kanselierstoekennings vereer.

  • Opnames van gradeplegtigheidseremonies is ná afloop van elke geleentheid aanlyn beskikbaar.

Hooffoto: Dr Viljoen van der Walt by die gradeplegtigheid.

Foto 1: Randall van der Heever saam met dr Beryl Botman, die weduwee van wyle prof Russel Botman.

Fotograaf: Stefan Els