Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Ek definieer myself’ sê uitblinker Nitiksha
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 05/12/2017

Waar jy vandaan kom, hoef nie te bepaal waar jy heen op pad is nie. Dr Nitiksha Wesley het dít  opnuut bevestig deur nie net moeilike kinderdae te bowe te kom nie, maar ook die eerste student te word wat die MB,ChB-verlengde graadprogram aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetensappe cum laude slaag.

“Ek het in Gelvandale in Port Elizabeth grootgeword. Dis 'n oorwegend bruin gemeenskap met sy eie uitdagings van dwelmmisbruik en verwante misdaad. My sibbe en ek is deur 'n enkellopende, werkende ma en ʼn ouma grootgemaak.

Nitiksha se motivering om hard te werk en soveel te bereik as wat sy tot op hede het, spruit uit haar vasberadenheid om nie toe te laat dat haar omstandighede haar definieer nie. “Ek wil mysélf definieer."

Al was die keuse om 'n dokter te word vanselfsprekend vir Nitiksha, omdat sy “dokters altyd as die steunpilare in die gemeenskap beskou het wat help en gesond maak en dieselfde wou doen", was die pad na dié studies nie so maklik nie.

“Aan die einde van matriek is die ThuThuka-beurs vir geoktrooieerde rekenmeesters aan my toegeken. Al my aansoeke vir beurse vir medies was onsuksesvol. Ek is derhalwe voor die keuse gestel om BCom Rekeningkunde met 'n volle beurs te studeer, of medies (my droom) sonder enige finansiering."

Sy het by haar ma en ander ouer mense om raad aangeklop en is meegedeel dis haar keuse om te maak. Met baie geloof en steeds geen beurs nie, het sy die bus Kaapstad toe gehaal om medies te studeer.

“In die lig van my agtergrond was dít die moeilikste besluit wat ek nóg moes neem."

Maar haar hoop het vrugte afgewerp en ná 'n paar maande aan die US het die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid 'n beurs aan haar toegeken. “Ek was nog nie een keer spyt oor my besluit nie!"

Sy is beskeie oor die feit dat sy haar graad met lof kon behaal en skryf dit gedeeltelik toe aan haar streng daaglikse studieroetine van haar eerste tot haar finale jaar. “Ek het dit gebalanseer met prettige naweke, of om op ander plekke as die kampus te studeer net om nie mal te word nie."

In moeilike tye was dit haar geloof en ondersteuningsnetwerk, bestaande uit haar familie en lewensmaat, wat haar gehelp het om gemotiveer te bly en perspektief te behou.

Volgens Nitiksha behels sukses om in staat te wees om die doelwitte te behaal wat jy vir jouself gestel het. Ná haar gemeenskapsjaar aan die Kimberley-hospitaal in die Noord-Kaap, is haar volgende doelwit om as algemene chirurg te kwalifiseer voordat sy in oorplantingschirurgie subspesialiseer. “Ek sou graag as oorplantingschirurg wil werk en die invloed wil hê om dié veld in die openbare sektor uit te brei."

Om haar voete op die grond te hou, sal Nitiksha haar 50-jarige self graag wou herinner aan wat sy moes deurmaak om te kom waar sy is. Sy sou sê: Wees áltyd dankbaar en moet nooit vergeet waar jy vandaan kom nie."

Onderskrif: Dr Nitiksha Wesley is die eerste student wat die MB,ChB-verlengde graadprogram aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetensappe cum laude slaag.