Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CRUISE-gegradueerde as nuwe statistikus-generaal van SA aangestel
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 30/11/2017

Mnr Risenga Maluleke, ʼn gegradueerde van die Sentrum vir Streeks- en Stedelike Innovasie en Statistiese Eksplorasie (CRUISE), wat in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) gesetel is, is as die nuwe statistikus-generaal van Suid-Afrika en die hoof van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) aangestel. Maluleke het ʼn MPhil in Stedelike en Streekswetenskap by CRUISE voltooi – een van die eerste groep studente om in 2011 hierdie graad by die sentrum te voltooi.

“Ons is baie trots daarop dat een van ons gegradueerdes in hierdie posisie aangestel is en dat ons daartoe bygedra het om hom toe te rus vir hierdie veeleisende uitdaging om Statistieke Suid-Afrika in die verskaffing van statistiese stelsels vir getuienisgebaseerde besluitneming te lei," het professor Manie Geyer, direkteur van CRUISE gesê.

CRUISE is in 2009, met die finansiële steun van Stats SA, by die US op die been gebring en vorm deel van ʼn aksie om wetenskapsopvoeding in Suider-Afrika te bevorder. Die navorsingsentrum, wat in die Departement Geografie en Omgewingstudie gesetel is, fokus op kwessies met betrekking tot maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling op plaaslike, streeks-, nasionale en internasionale vlak. Vanaf sy ontstaan het die sentrum sterk klem op kwantitatiewe empiriese navorsing geplaas en ʼn hoë uitsetvlak gehandhaaf. Dit is ook deel van die Isibalo-groep instansies, wat die bevordering van die gebruik van statistiek in navorsing in Afrika ten doel het. Alhoewel CRUISE ʼn navorsingsentrum is, het dit ook ʼn belangrike onderrigfunksie en bied dit nagraadse programme in sowel Stedelike en Streekswetenskap as Stedelike en Streeksbeplanning aan.

Volgens ʼn persverklaring wat deur Stats SA uitgereik is, het Maluleke wye ondervinding in die organisasie, wat deur sy kwalifikasies ondersteun word – ʼn BSc in Wiskundige Statistiek van die Universiteit van Limpopo en ʼn MPhil in Stedelike en Streekswetenskap van die US. Hy het ook senior uitvoerende programme by die Wits en Harvard bestuurskole voltooi.

“Risenga Maluleke was ʼn betroubare en bestendige vennoot met wie ek oor ʼn kwarteeu heen in gewaagde leierskapmissies saamgewerk het om die mees ikoniese staatsinstelling te skep. Alhoewel die aanstelling van ʼn statistikus-generaal wetlik voorgeskryf is en nie op ʼn uitgaande statistikus-generaal berus nie, is ek baie tevrede met die leierskap se keuse. Ek kan nou met veiligheid sê wat ek een-en-twintig jaar gelede in Oktober 1996 vir dr Benny Mokaba gesê het nadat die paneel besluit het om Risenga Maluleke by die Statistiekkantoor in Limpopo aan te stel. Ek het Benny geskakel en gesê 'vandag het ons ʼn hoof-in-wording vir die Sentrale Statistiekdiens aangestel'," het sy voorganger, mnr Mr Pali Lehohla, gesê.

“Risenga is ʼn goed gegronde, gebalanseerde leier, hy boesem redelikheid en regverdigheid in deur sy optrede, hy het onblusbare krag, hy is nederig, hy is ʼn diensleier, ʼn seun van die platteland wat behendig by wêreldstede aanpas, en wat reg is om enige teenspoed te pak met ʼn verstand wat vasberade is om oplossings te vind. My sukses om hierdie magtige organisasie te lei en op te bou sou nie sonder Risenga se hulp in gevaarlike waters moontlik gewees het nie. My deel van die afloswedloop is klaar. Ek gee nou die staffie aan ʼn deeglik beproefde professionele persoon en leier oor."

Foto: Mnr Risenga Maluleke, ʼn gegradueerde van die Sentrum vir Streeks- en Stedelike Innovasie en Statistiese Eksplorasie (CRUISE) aan die Universiteit Stellenbosch, is as die nuwe statistikus-generaal van Suid-Afrika en die hoof van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) aangewys.