Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingstentoonstelling bevorder samewerking met industrie
Outeur: Media & communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 29/11/2017

By die Fakulteit Natuurwetenskappe se eerste navorsingstentoonstelling op Vrydag 17 November 2017, het navorsers en nagraadse studente ongeveer 50 plakkate uitgestal vir 'n gehoor van meer as 100 gaste uit die industrie, ons alumni en akademiese personeel van ander US fakulteite.

Prof Louise Warnich, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê die tentoonstelling is een van die inisiatiewe wat deur die fakulteit se adviesraad geïdentifiseer is ten einde verhoudinge te bou met die industrie: “Die Fakulteit Natuurwetenskappe is uiters bewus van sy verantwoordelikheid om studente nie net voor te berei en toe te rus met die hoëvlak vaardighede wat vereis word deur die sogenaamde “ Vierde Industriële Revolusie" nie, maar ook om grense te verskuif en by te dra tot nuwe kennis. Ons kan dit egter nie in isolasie doen nie. Die fakulteit het reeds verskeie geleenthede vir personeel en studente geïnisieer om samewerking te bevorder en ons navorsing verhoogde blootstelling te gee. Vanda se tentoonstellings is 'n voorbeeld van so 'n inisiatief."

“Die doel van hierdie uitstalling is om nuwe navorsings- en samewerkingsgeleenthede met betrekking tot multidissiplinêre projekte te ontsluit. Ons glo dat hierdie benadering ons in staat sal stel om die komplekse vraagstukke en  uitdagings die hoof te kan bied wat ons wêreldwyd vandag in die gesig staar," het sy in haar toespraak by die uitstalling gesê, wat in die foyer van die US se konservatorium gehou is.  

Mnr. Kobus Viljoen, besturende direkteur van VASTech en 'n lid van die fakulteit se adviesraad, sê hy het waardering vir die universiteit en die fakulteit se pogings om uit te reik na die industrie: “Ek en my kollegas het die interaksie geniet en ons sien uit na volgende jaar se navorsingstentoonstelling."

Volgens prof. Willem Visser, visedekaan navorsing in die Fakulteit Natuurwetenskappe, kan alle navorsers baatvind by blootstelling aan ander dissiplines, veral as dit moontlik kan lei tot  samewerking op interdepartementele of interfakultêre vlak.  

Klik hier​ vir 'n volledige lys van die navorsingsplakkate wat uitgstal is.

Op die foto hierbo: verskeie alumni wat tans in die industrie werk, het die uitstalling bygewoon. Van links na regs: Paul Reader (PhD in polimeerwetenskap, 2014), Peter Hollis (MSc prosesingenieurswese) en Reda Fleet (PhD in chemie en polimeerwetenskap, 2010). Hulle almal is tans werksaam by Kansai Plascon.