Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosse Regshulpkliniek verskuif
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie - Rozanne Engel
Gepubliseer: 27/11/2017

​Die Regshulpkliniek, wat al talle mense in die Bolandstreek bygestaan het, spog vanaf 11 Desember 2017 met 'n nuwe adres.

As deel van die strategiese doelwitte van die kliniek sowel as die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid, sal die Regshulpkliniek sy huidige perseel by Banhoekweg 44 vir Crozierstraat 18-24 verruil.

Dié verskuiwing sal beter inskakeling by die Fakulteit bewerkstellig en ook makliker toegang bied aan huidige en toekomstige kliënte wat openbare vervoer gebruik, sê Theo Broodryk, bestuurder van die Regshulpkliniek en senior dosent by die Fakulteit.

“Prakties beskou, is die verskuiwing 'n sinvolle besluit. In ons nuwe fasiliteit in Crozierstraat, oorkant die Fakulteit Regsgeleerdheid (wat in die Ou Hoofgebou op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat geleë is) en naby die Stellenbosse landdroshof, sal ons ook meer regstudente kan bereik wat by die kliniek betrokke wil raak en gemeenskapslede wat regsverteenwoordiging nodig het, wil help."

Broodryk glo die ou ligging van die kliniek het nie die Fakulteit sy maatskaplike bewussynsdoelwitte ten volle help verwesenlik nie.

“Op die vorige perseel was die kliniek effens ontoeganklik vir regstudente, alhoewel dit baie toeganklik tot die res van die Universiteit is."​

Die Regshulpkliniek funksioneer as 'n regsfirma en maak deel uit van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid. Die kliniek lei ook voornemende menseregteprokureurs op deur regstudente in hulle finale jaar van praktiese regsopleiding te voorsien. 

“Die kliniek sal voortaan méér regstudente kan oplei. Tot dusver kon ons net sowat 50 tot 60 studente per jaar vir opleiding of vrywilligerwerk by die kliniek inneem, maar met die nuwe fasiliteit sal ons dít teen 2019 tot ongeveer 200 studente kan vermeerder," sê Broodryk.

Benewens die verskuiwing na Crozierstraat, beplan die Regshulpkliniek ook 'n beeldvernuwing en herbekendstelling as deel van die Eeufeesvieringe van die Universiteit Stellenbosch aanstaande jaar.

Die Regshulpkliniek sit sy bedrywighede voort tot en met die groot trek op 11 Desember 2017, en heropen dan op 15 Januarie 2018 vir die publiek.

Vir meer inligting oor die Regshulpkliniek, klik hier.