Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroueregte nie ten volle in Afrika geïmplementeer
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 27/10/2017

Die skending van vroue se menseregte vier hoogty in Afrika, het prof Annika Rudman van die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch op Donderdag (26 Oktober 2017) gesê. Sy het haar intreerede in die Ou Hoof-gebou op die Stellenbosch-kampus gelewer.

Rudman het gesê miljoene vroue in Afrika, wat aan diskriminasie, geweld en onderdrukking blootgestel is, het geen toegang tot streeks- en internasionale menseregte-instellings nie.

Hulle het ook nie toegang tot hulpbronne, kennis, regshulp en goeie regsverteenwoordiging nie, het sy bygevoeg.

Rudman het gesê vroue se regte moet geïmplementeer word omdat die Verenigde Nasies se Komitee oor die uitwissing van alle vorme van diskriminasie teen vroue (oftewel die CEDAW-komitee) bepaal dat vroue se reg op toegang tot regspleging 'n kernelement van die oppergesag van die reg is, en noodsaaklik is vir die realisering van vroue se menseregte regoor die wêreld.Annika Rudman (7)_preview.jpeg

Sy het egter daarop gewys dat ten spyte van die CEDAW-komitee en ander regsinstrumente soos die Protokol tot die Afrika-handves vir Mense- en Volkeregte op die Regte van Vroue in Afrika (die Maputo-protokol), vroueregte nie behoorlik geïmplementeer word nie.

Die Maputo-protokol is 'n omvattende verdrag wat alle vorme van diskriminasie, skadelike kultuurpraktyke en huishoudelike geweld teen vroue en meisies verbied. Dit skryf ook eiendoms- en erfenisregte voor en sluit burgerlike- en politieke- sowel as sosio-ekonomiese regte in. Die Maputo-protokol is in 2003 deur die Afrika-unie (AU) goedgekeur en het in November 2005 in werking getree. Dit is reeds deur 39 van die 55 AU-lidlande bekragtig en is al vir tien jaar of langer in 24 van hierdie lande van krag.

Rudman het gesê hoewel die bekragtiging van die Maputo-protokol relatief suksesvol was, kom vroueregte nie ter sprake in die besluite en uitsprake van verdragsliggame wat gevorm is om dié regte op die Afrika-vasteland te beskerm nie."

Sy het die behoefte aan 'n gespesialiseerde komitee om die toepassing van die Maputo-protokol in die beskerming van vroue se regte te moniteer beklemtoon.

“Daar is geen gespesialiseerde vroueregte-instelling in Afrika wat op vrouekwessies kan fokus en hul bewerings van menseregteskendings op die voorgrond kan plaas nie," het sy gesê.

“ ʼn Gespesialiseerde vroueregte-instelling sal as 'n ontvanger van litigasie en as 'n drywer van implementering kan dien. Dit sal moontlik ook vroue se toegang tot regspleging verbeter en belangrike insae bied in die Maputo-protokol."

“Die instelling van 'n komitee oor die regte van vroue in Afrika sal die beskerming van die regte in die Maputo-protokol versterk. ʼn Gespesialiseerde instelling sal vroueregte eerbiedig."

Rudman meen verdragsliggame sal slegs die wetgewing oor vroue se menseregte kan interpreteer en toepas indien vroue redelike toegang tot hierdie liggame het.

Sy het gesê die Afrika-kommissie vir menseregte en volkeregte​ en die Afrika-hof vir menseregte en volkeregte kan moontlik gewysig of verbeter word om die implementering en handhawing van die Maputo-protokol en die oppergesag van die reg te ondersteun.

  • Hooffoto: Vrou in Afrika (Krediet: Pixabay)
  • Foto 1: Prof Annika Rudman (middel) saam met profs Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, en Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, by die intreeredde. Fotograaf: Anton Jordaan.