Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Landbouskrywers vereer Agriwetenskappe alumni
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 25/10/2017

Twee oudstudente van die Fakulteit AgriWetenskappe is vir hul bydrae tot die landboubedryf uitgesonder tydens die jaarlikse streekswye kompetisies van Landbouskrywers Suid-Afrika. Dr Elsje Joubert is aangewys as Limpopo se beste landboukundige, terwyl hierdie eer vir bewaringslandboukenner dr Johann Strauss in die Wes-Kaap te beurt geval het.

Die beste boer en beste landboukundige in spesifieke streke en ook nasionaal word reeds sedert 1977 deur die sowat 200 lede van Landbouskrywers Suid-Afrika gekies. Die nasionale wenners word op 11 November in Bloemfontein by die Vereniging se nasionale vergadering bekendgemaak.

Dr Elsje Joubert

Dr Elsje Joubert is die waarnemende tegniese bestuurder by Subtrop, die Suid-Afrikaanse kwekersvereniging vir avokado's, mango's, lietsjies en makadamia-neute. Sy het haar PhD in entomologie verwerf met 'n proefskrif die impak van klimaatsverandering op die fisiologie en bevolkingsdinamika van Eldana saccharina. Dié soort stamboorder kan ernstige skade aan suikerriet aanrig. Sy het haar MSc in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie voltooi, en haar studies was onder meer gekoppel aan die werksaamhede van die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (CIB).

Joubert spog met baie praktiese ondervinding in verskillende aspekte van die landboubedryf. In haar huidige rol verteenwoordig sy Subtrop in die Levubu-, Soutpansberg- en Kaapse produksie-areas. Joubert se praktiese ondervinding het in 2011 begin toe sy by Citrus Research International met vrugtevlieë en blaaspootjies in die veld gewerk het. Daarna het sy by die Suid-Afrikaanse Suikerrietnavorsingsinstituut (SASRI) gewerk en het in 2013 by Subtrop aangesluit.

Die raadgewende en ondersteunende rol wat sy speel in die werkplek is waar haar passie lê. Alhoewel sy erken dat boerdery nie maklik is nie, en elke dag nuwe uitdagings bied, geniet sy haar rol as voorligter.

Bewaringskundige dr Johann Strauss

Dr Johann Strauss staan aan die voorpunt om bewaringslandbou in die kwesbare – maar uiters belangrike – graanbedryf in die Wes-Kaap op die proef te stel, dit te bevorder en uit te bou. Sy bydraes tot volhoubare navorsing en proewe het 'n groot invloed op die Wes-Kaapse landbou.

Dr Strauss is ʼn senior navorser in volhoubare verbouingstelsels by die direktoraat plantwetenskappe van die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Elsenburg. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer, waar hy die grade BSc, MSc en sy PhD Agric behaal het. Vir sy doktorsgraad het hy verskillende droogteverdraagsame lentekoringkultivars in Suid-Afrika bestudeer.

Tydens ʼn besoek aan Argentinië in 2011 het hy dié land se geenbewerkingspraktyke besigtig. Hy het teruggekeer en met groot entoesiasme homself beywer om ʼn forum vir bewaringslandbou in die Wes-Kaap op die been te bring. Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) is in 2012 gestig.

Sedert hy die BLWK begin het, het heelwat boere skyfplanters begin gebruik en van hulle het dekgewasse op die proef begin stel. Sy praktiese konsepte van “Walk & Talks" deur proewe en op deelnemende plase, is baie gewild. Die Riversdal Boeredag het met die begin van sy projek, asook sy nuwe navorsing daar, ʼn reuse-sprong gemaak met ʼn verdubbeling in besoekers. Vandag lok dit meer as 400 besoekers – ongetwyfeld die grootste boeredag in sy soort in die Wes-Kaap.

Die waarde van sy werk kan ook gemeet word aan die ondersteuning wat dit uit die bedryf kry. Die Wintergraantrust en die Proteïennavorsingstigting (PNS) finansier jaarliks ʼn deel van sy projekte. Die laaste finansiering aan sy projekte was meer as R1 miljoen, terwyl sowat R90 000 spesifiek aan BLWK bewillig is.

Afgevaardigdes van Rothamsted Research in Engeland het Elsenburg onlangs besoek, omdat hulle dr Strauss se Langewens-Langtermynproef deel van hul “Global Long-Term Experiment Network" wil maak. Dit is die enigste langtermyn-stelselproef waarvoor diereproduksiedata ook beskikbaar is.