Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Só word geskiedenis gemaak: Onvertelde stories sien die lig danksy toelaag van R11.7m
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 25/10/2017

Die onvertelde stories van Suid-Afrikaners wat in die verlede oor die hoof gesien is en deur die geskiedenis opsy gelaat is, gaan die lig sien te danke aan ʼn nuwe projek gesetel in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Hierdie projek, getiteld Biography of an Uncharted People, het pas ʼn finansiële inspuiting van R11,7m van die Andrew W Mellon Stigting ontvang, wat oor die volgende vyf jaar uitgesprei sal word.

Die projek behels verkenning van die kosbare vonds van historiese data van Suid-Afrikaners, veral swart burgers, en transkribering van groot hoeveelhede historiese mikrodata. Dit sal ʼn eerste poging wees om die geskiedenis van families wat in die verlede oor die hoof gesien is aan die lig te bring.

“Die goeie nuus is dat historiese rekords in digitale formaat deesdae tot ʼn groot mate beskikbaar is, maar die slegte nuus is dat die stories wat hierdie bronne kan vertel, onverteld gelaat word," sê projekleier en medeprofessor Johan Fourie. “Ons het nou die befondsing om hierdie rekords te transkribeer en te ontleed sodat ons hierdie stories kan vertel."

Volgens Fourie sal hierdie projek bydra tot uitbreiding van die digitale geesteswetenskappe, wat hy beskryf as die vakgebied by die kruispunt van die geesteswetenskappe en rekenaarwetenskap. Vakkundiges wat die metodes van die digitale geesteswetenskappe gebruik, kan verskeie instrumente inspan, van algoritmes wat met tekstuele ontleding help, tot beeldherkenning en grootdata-tegnieke. Hulle kan groot databasisse digitaliseer en transkribeer en individue se eienskappe en gedrag ontleed. In die afwesigheid van ander mikrodata van Suid-Afrikaners, veral swart burgers, wat dikwels van sensusse en verslae uitgesluit is en in ander soorte argiefrekords soos persoonlike versamelings briewe onderverteenwoordig is, is individuelevlak-rekords ʼn kosbare vonds van inligting oor die ekonomiese, sosiale, demografiese, gesondheids-, arbeids-, geslagkundige en migrasiegeskiedenisse van die Kaapkolonie en Suid-Afrika.

Bydrae tot debatte in Suid-Afrikaanse geskiedenis

Buiten die transkribering en verspreiding van hierdie datastelle, sal daar ook begin word om die inligting stelselmatig te ontleed ten einde tot debatte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis by te dra. Benewens die navorsingsonderwerpe wat deur vyf meestersgraads- en vyf honneursstudente onderneem sal word, is vyf vlagskipprojekte vir PhD-studente geïdentifiseer. Hierdie bronne en die metodes van die digitale geesteswetenskappe sal ook in voorgraadse en nagraadse onderrigkurrikula bekendgestel word. Dit sal ʼn nuwe generasie geskiedkundiges bemagtig om krities met primêre bronne en groot hoeveelhede kwantitatiewe en kwalitatiewe bewyse te kan werk.

Fourie sê omdat die apartheidstelsel Suid-Afrika belemmer het deurdat ʼn hoëronderwysstelsel afgedwing is wat ontwerp is om sosiale en ekonomiese ongelykhede ten opsigte van ras, klas, geslag, streek en instelling te handhaaf, is hierdie projek ook ʼn poging om die metodologiese skeiding wat in die dissipline voorgekom het, te vernou.

“Ons sien hoe historiese bevoorregting of benadeling weerspieël word in studente se uiteenlopende vermoëns om met groot stelle kwantitatiewe en kwalitatiewe historiese bewyse met behulp van tegnologiese instrumente te werk. Hierdie projek is daarop gemik om die struikelblokke te verwyder en jong vakkundiges voort te bring wat vaardig is in die digitale geesteswetenskappe en die volgende generasie kan onderrig," sê hy.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekansellier van die US, sê die Universiteit is dankbaar vir die Andrew W Mellon Stigting se voortgesette ondersteuning van die ontwikkeling van navorsing en kennisskepping in die sosiale wetenskappe en geesteswetenskappe en hoop om die samewerking in die toekoms voort te sit.

“Hierdie inisiatief gee duidelik uitvoering aan ons institusionele strategie ten opsigte van navorsing in die sosiale wetenskappe en geesteswetenskappe asook die noodsaaklike element van kapasiteitsontwikkeling van jong navorsers, met inbegrip van diegene uit aangewese groepe. Die transdissiplinêre projek ondersteun en sal aanmerklik bydra tot die vestiging en ontwikkeling van die digitale geesteswetenskappe in die Fakulteit.

“Voorts sal hierdie projek ʼn nuwe metodologie in die Departement Geskiedenis aanvoor en veranker. Dit sal ʼn impak op onderrig, leer en navorsing hê en geleenthede bied vir die motviering van toekomstige akademiese aanstellings op hierdie navorsings- en onderriggebied," voeg hy by.

Die Andrew W Mellon Stigting het ʼn gevestigde verhouding met die US en streef daarna om die bydraes van die geesteswetenskappe en die kunste tot mense se vooruitgang en tot die welsyn van diverse en demokratiese samelewings te versterk, te bevorder en, waar nodig, te verdedig. Met hierdie doel voor oë ondersteun die Stigting vooraanstaande instellings van hoër onderwys en kultuur, aangesien dit toegang tot ʼn onskatbare erfenis van vooruitstrewende baanbrekerswerk versterk en verskaf.

Op die web:

Foto: Projekleier, prof Johan Fourie.