Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Duitse afvaardiging besoek vernuwende MIV-toetsterreine in Kaapstad
Outeur: Kim Cloete
Gepubliseer: 17/10/2017

​ʼn Hoëvlak-Duitse afvaardiging het die positiewe impak van MIV-toetsing in gemeenskappe eerstehands aanskou gedurende ʼn besoek aan gemeenskapstoetsterreine wat deur die Universiteit Stellenbosch se Desmond Tutu TB-sentrum bedryf word.

Dié afvaardiging van 23 lede onder leiding van Theresa Bauer, Minister van Wetenskap, Navorsing en die Kunste van die Duitse deelstaat Baden-Württemberg, het so ʼn toetsterrein besoek waar mense in tente en karavane vinnig vir MIV getoets kan word, pleks daarvan dat hulle na ʼn kliniek hoef te gaan.

Die mobiele toetsing is deel van ʼn MIV-voorkomingspakket wat van deur tot deur en met mobiele eenhede deur MIV-sorgverskaffers (CHiPS) in gemeenskappe aangebied word. Dit maak deel uit van die HPTN 071 (PopART)-studie. PopART is ʼn navorsingstudie wat ten doel het om die impak van ʼn pakket antireretrovirale terapie-intervensies op die voorkoms van MIV op ʼn gemeenskapsvlak te bepaal. ʼn Miljoen mense in 21 gemeenskappe in Suid-Afrika en Zambië word daarby betrek.

Volgens Bauer is die Desmond Tutu TB-sentrum by hulle aanbeveel “as ʼn buitengewone instelling waar navorsing oor dringende gesondheidskwessies op ʼn baie praktyk-gerigte wyse tot regstreekse voordeel van die gemeenskap gedoen word".

Die afvaardiging het hoofsaaklik bestaan uit rektore van Baden-Württemberg, waar die grootste konsentrasie van universiteite en die mees diverse hoëronderwyslandskap in Duitsland voorkom.

Die groep wou graag meer hoor oor die ervarings van Blia Yang en haar CHiPS-span rakende MIV-toetsing van mense in en om Kaapstad. Hulle was ook bemoedig om te hoor hoe voorligters opvolgwerk by MIV-positiewe kliënte se huise doen en hulle te help om met klinieke vir behandeling te skakel en die nodige antiretrovirale behandeling te ontvang.

Die afvaardiging het die veldspanne gelukgewens met hul harde werk om die MIV-epidemie die stryd aan te sê.

“Ek is verheug dat die afvaardiging kon sien hoe mense in gemeenskappe by die Universiteit Stellenbosch se navorsingsaktiwiteite betrokke is en regstreeks daaruit voordeeel trek," het prof Nulda Beyers, Suid-Afrika se hoofnavorser vir die HPTN 071 (PopART)-studie, gesê.

Die besoek aan die toetsingsterrein het deel uitgemaak van die afvaardiging se vyfdaagse besoek aan Suid-Afrika en Namibië. Die groep stel veral belang in die onderlinge verband tussen wetenskap en navorsing, asook tussen wetenskap en die bedryf, met die fokus op “lewende laboratoriums" op die gebied van gesondheid, voedselsekerheid en maatskaplike navorsing.

“Ons het uitgevind dat hierdie interaksie tussen wetenskap en die bedryf, met inbegrip van die burgerlike gemeenskap, uitsonderlik goed in Suid-Afrika bewerkstellig word. Dis hoekom ons gekies het om na Suid-Afrika te kom en meer oor hierdie netwerk en wisselwerking by instellings soos die Desmond Tutu TB-sentrum te leer," het Bauer gesê.

Die afvaardiging het ook die DWT-NSS Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulosenavorsing aan die Universiteit Stellenbosch besoek, asook die Lynedoch-ekodorpie naby Stellenbosch.

Prof Arnold van Zyl, president van die Baden-Württemberg Koöperatiewe Staatsuniversiteit, het gesê die besoek was ʼn uiters leersame leerervaring omdat universiteitsleiers kon sien hoe kennis ten nouste met die praktyk van gemeenskapsgesondheid gekombineer word. Volgens hom is dít ongewoon, omdat kliniese en biomediese werk in ander lande dikwels ver verwyderd van mekaar geskied.

Die besoek sal na verwagting voordele op langer termyn inhou.

“Ons lande het veel in gemeen wat uitnemende, interdissiplinêre en akademiese onderrig betref. Ek is derhalwe oortuig die persoonlike ontmoetings tussen die afvaardiging van Baden-Württemberg en die vennote in Suid-Afrika en Namibië sal óf nuwe kontakte inisieer, óf bestaande vennootskappe versterk tot wedersydse voordeel van almal," het Bauer gesê.

Volgens haar is interaksie tussen Duitsland en sy Afrika-vennote uiters belangrik.

“Samewerking en integrasie met Afrika-vennote is van deurslaggewende belang as ons vordering wil maak om die huidige dringende globale uitdagings die hoof te bied."

 

Onderskrif: Lede van ʼn hoëvlak- Duitse afvaardiging bekyk een van die mobiele MIV-toetsterreine in Kaapstad.