Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fisher gereed vir uitdaging as Maties se atletiekafrigter
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 17/10/2017

​Aangesien hy self 'n voormalige Matie is, het Maurice Fisher die geleentheid aangegryp om die hoofafrigter van Maties Atletiek te word.

Fisher het Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer en was tot onlangs 'n afrigter by Paarl Gimnasium en Paarl Atletiekklub.

"Die US is oor die wêreld heen bekend vir sy ryk tradisies en uitstekende prestasies in sport en akademie. Met die leierskap by Maties Sport, die kaliber van atlete en die infrastruktuur, is dit werklik 'n droom wat waar geword het om die hoofafrigter by Maties te word," het Fisher gesê,

Soos met enige nuwe posisie, weet Fisher dat sy droomwerk nie sonder  uitdagings kom nie.

"Elke groot en belangrike taak kom met uitdagings en ek verwelkom dit met entoesiasme. Dit sal 'n uitdaging wees om studente-atlete te kry om op die hoogste vlak te presteer en ook diepte in al die dissiplines te kry, veral die minder gewilde dissiplines. Al die partye wat betrokke is, sal moet saamwerk om 'n omgewing van uitnemendheid te kultiveer – net dan sal ons die resultate behaal wat ons graag wil hê," het hy bygevoeg.