Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opstelkompetisie bied studente die geleentheid om hul horison te verbreed
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 16/10/2017

Nadat hy nie sy opstel vir verlede jaar se Schroders-opstelkompetisie betyds kon voltooi nie, het Ruan Erasmus, 'n meesterstudent in Ekonomie, ​daarvoor opgemaak deur die beste opstel vir die 2017-kompetisie in te dien.

Dié opstelkompetisie maak deel uit van 'n gesamentlike beleggingnavorsingsinisiatief wat sy oorsprong het in 'n ooreenkoms wat in November 2015 tussen die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) en Schroders se afdeling vir Multi-batebeleggings en portefeulje-oplossings (MAPS) onderteken is.

Die kompetisie was oop vir nagraadse studente van die Departemente Statistiek en Aktuariële Wetenskap, Ondernemingsbestuur en Ekonomie.

Die wenners – Ruan, Theunis Bothma, Kiran Singh, Jan Esterhuysen, Gideon du Rand, Marcel Bovijn, George Spies, Christina Yaffes, Lara Marais en Ian Louw – het elkeen met R20 000 weggestap.

Die topdrie-presteerders het almal hul opstel oor dieselfde onderwerp geskryf: Finansies & Beleggings – Bepaling van beleggersentiment.

Ruan se onderwerp was 'Prestasie van effekte-indeks: Die Rol van Mediasentiment'.

“Die onderwerp ​stem baie ooreen met dié van my honneurstesis, wat op die invloed van mediasentiment in finansiële markte fokus. Deelname aan hierdie kompetisie het my nie net gedwing om dieper in die onderwerp van mediasentiment te delf nie maar het my ook in staat gestel om meer kennis te verwerf oor die ingewikkelde verhoudings wat binne die finansiële sfeer bestaan.

“Die sleutelelement wat ek uit hierdie kompetisie geleer het, is dat mens altyd 'n geleentheid moet aangryp wanneer daar 'n kans is om jou horison te verbreed en om navorsing in jou voorkeurstudieveld te onderneem. Ek is daarom dankbaar dat Schroders vir die tweede jaar agtereenvolgens so 'n waardevolle ondervinding na die Universiteit  Stellenbosch gebring het."

Ashley Lester, globale hoof van multibatebeleggings- en  portefeulje-oplossings by Schroders, het die opstelle hersien.

“Die opstelkompetisie het hierdie jaar 'n verblydende aantal inskrywings opgelewer, waaronder 'n paar uitstaande en deurdagte stukke innoverende navorsing. Sommige van die opstelle het oorspronklike empiriese navorsing onderneem, met fassinerende resultate. Geluk aan al die wenners van ons kompetisie."

Carel van der Merwe van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, wat die kompetisie saam met Schroders bestuur en georganiseer het, was in sy skik met die toenemende belangstelling in die opstelkompetisie sowel as Schroders se positiewe terugvoering.