Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Slimfone lei studente se aandag af tydens lesings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/10/2017

Digitale tegnologieë, veral slimfone, het so 'n integrale deel van ons lewens geword dat dit moeilik is om die lewe daarsonder voor te stel. Vandag spandeer mense elke dag meer as drie ure op hul fone.

“Hoewel toenemend slimmer digitale toestelle baie aspekte van ons lewens makliker en doeltreffender gemaak het, is daar groeiende bewyse dat hulle voortdurend ons aandag aflei, en ons vermoë om te konsentreer benadeel," sê navorsers dr Daniel le Roux en doktorale kandidaat Douglas Parry van die Kognisie- en Tegnologienavorsingsgroep in die Departement Inligtingwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Le Roux staan aan die hoof van die navorsingsgroep en Parry is ʼn doktorale student. Hul werk fokus op die impak van digitale media, veral selfone, op studente se vermoë om in die klaskamer te konsentreer.

 
  • ​Selfoongebruikers klik hier vir video.

​Hulle meen vandag se studente is die sogenaamde digital natives – individue wat na 1980 gebore is – wat met digitale media grootgeword het en so vinnig by hierdie omgewing aangepas het dat hulle “voortdurend verskeie media gelyktydig gebruik, en met gereelde  intervalle van een na ʼn ander beweeg om gekonnekteer, altyd op hoogte en altyd gestimuleer te bly."

Die navorsers sê dit is dus geen verrassing dat dosente by universiteite aangemoedig word om meer en meer gemengde leerinisiatiewe (blended learning) te ontwikkel en tegnologie – video's, potgooie, Facebook-bladsye, en so meer – in die klaskamer te bring ten einde studente die verbeterde ervarings wat digitale media verskaf te bied.

Hulle waarsku egter dat 'n belangrike uitwerking van hierdie inisiatiewe is om die gebruik van media tydens lesings as die norm te vestig.

“Studies deur ons en navorsers regoor die wêreld wys dat studente voortdurend hul fone gebruik wanneer hulle in die klas is." hê

“Maar hier is die interessante: as jy dink hulle volg skyfies oor die lesings of neem deel aan debatte oor die onderwerp maak jy ʼn fout. Trouens, dit is amper nooit die geval nie. Wanneer studente hul fone tydens lesings gebruik, doen hulle dit om met vriende te kommunikeer, op sosiale netwerke betrokke te wees, YouTube-video's te kyk of net om deur webtuistes te blaai om hul belange te volg."doug & daan-web.jpg

Daar is twee primêre redes waarom hierdie tipe gedrag vanuit 'n kognitiewe beheer- en leerperspektief problematies is, sê die navorsers.

“Die eerste is dat wanneer ons verskeie take gelyktydig verrig (multitasking), ons nie die primêre taak goed uitvoer nie. Dit is baie moeilik om die inhoud van ʼn lesing te verstaan as jy elke vyf minute aan jou foon aandag skenk. Daar is genoegsame bewys wat hierdie punt ondersteun en toon dat die gebruik van media tydens lesings met laer akademiese prestasie geassosieer word."

“Die tweede rede is dat dit studente se vermoë om vir 'n langer tydperk op iets spesifieks te konsentreer benadeel. Hulle raak gewoond daaraan om vir al hoe korter tussenposes na alternatiewe vorme van stimuli oor te skakel. Die oomblik wanneer die lesing nie daarin slaag om studente betrokke te hou nie of moeilik raak om te volg, kom die fone uit."

Die navorsers sê bewustheid van hierdie tendens het daartoe gelei dat sommige dosente, selfs dié by voorste tegnologie-georiënteerde universiteite soos die Massachusetts Institute of Technology (MIT) in Amerika, hul lesings as toestelvrye-sones verklaar het in 'n poging om betrokkenheid, aandag en uiteindelik kritiese denkvaardighede by hul studente te kweek.

“Niemand kan ontken dat mobiele rekenaartoestelle ons lewens op 'n magdom maniere makliker en meer pret maak nie. Maar in die lig van al die gekonnekteerdheid en vermaak wat hulle bied, moet ons die kostes in gedagte hou."

Die navorsers moedig veral beleidsmakers oor opvoeding en dosente aan om die implikasies van hul besluite met 'n baie groter bewustheid van die dinamika tussen tegnologiegebruik en die kognitiewe funksies wat ons in staat stel om te leer te oorweeg.

  • Hooffoto: Studente op hul slimfone gedurende 'n lesing.
  • Foto 1: Navorsers Douglas Parry en dr Daniel le Roux. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Daniel le Roux

Kognisie- en Tegnologienavorsingsgroep (http://suinformatics.com/ctrg )

Departement Inligtingwetenskap

Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 3803

​E-pos: dbleroux@sun.ac.za