Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwysstudent ontvang twee Rektorstoekennings
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 14/10/2017

​Toe MK Nompumza, nou 'n vierdejaaronderwysstudent,​ in 2014 by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf het, het hy dit gedoen met die voorneme om volle eienaarskap van sy reis by hierdie instelling te neem.

Hy het in die Oos-Kaap grootgeword en na Stellenbosch gekom met die voorspellings van neebroers in sy ore: Dat hy as 'n swart man nie hier sou floreer nie. Dat hy geen invloed sou hê of die vermoë om 'n impak te maak nie. Dat hy op geen manier sou kon uitstyg nie.

 Hierdie aannames is almal verkeerd bewys. MK het Donderdag 5 Oktober, nie een nie, maar twee Rektorstoekennings vir uitnemende prestasies ontvang: een vir uitnemende leierskap en een vir uitnemende dienslewering. Lees volledige berig oor aand hier.​

“Ek voel baie geëerd want ek dink hierdie eerbewyse sê dat ons jou pogings, jou leierskap in hierdie ruimte en jou bydrae erken."

Sy trotse pa, Vusumzi Nompumza, het van King William's Town na Stellenbosch gereis om hierdie geleentheid met sy seun te deel.

MK bewonder sy pa wat skool op laerskoolvlak moes verlaat om lewendehawe op 'n plaas op te pas.

“Hy het koerante en enigiets waarop hy sy hande kon lê, gebruik om homself Engels te leer. Nou is hy suksesvol in besigheid en in boerdery en is hy 'n leier in sy gemeenskap. Hy het my gewys dat onderwys binne jou bereik is ongeag jou omstandighede, en dat 'n mate van inisiatief van jou kant ook nodig is."

Gedurende die laaste vier jaar het MK van elke moontlike geleentheid wat sy kant toe gekom het, gebruik gemaak én 'n paar self geskep.

Hy is gekies as die voorsitter van die Fakulteit Opvoedkunde se studentekomitee in 2015/2016 en was instrumenteel in die ontwerp en implementering van 'n kort kursus in Leierskap in Onderwys. Die afgelope twee jaar het hy as koördineerder van hierdie kursus, wat deur die Fakulteit Opvoedkunde in samewerking met die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling aangebied word, opgetree.

“Ek moet erkenning gee aan die ruimte wat my toegelaat het om hierdie inisiatief te neem," voeg MK by.

Hy het die eerste keer oorsee gereis om 'n internasionale somerskool by Humboldt Universiteit in Berlyn by te woon en was ook betrokke by 'n vennootskap– navorsingsprojek oor beplanning en beleid vir twee- en veeltalige skole.

Sy droom is om 'n ware fasiliteerder vir leer te word in elke skool waar hy eendag skoolhou.

  • MK gradueer aan die einde van die jaar en het aansoek gedoen vir 'n honneursgraad in opvoedkundige ontwikkeling en demokrasie. 
  • Foto: MK en sy pa, Vusumzi Nompumza.