Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektorstoekennings vir top US-studente
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/10/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente wat uitsonderlik presteer het in areas wat wissel van akademie tot leierskap, sport en sosiale impak, is Donderdag (5 Oktober 2017) met Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie vereer. Dié jaarlikse toekenningsgeleentheid het by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) plaasgevind.

Die volgende studente is as die top meestergraadstudente in hul onderskeie fakulteite aangewys en het US-medaljes ontvang: Christiane Schaeffler (Lettere en Sosiale Wetenskappe); Jadri Barnard (Opvoedkunde); Niel Miller (AgriWetenskappe); Monika du Toit (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe); Kari Jonker (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe); Josh Mitchell (Ingenieurswese); Sunel de Kock (Natuurwetenskappe); Cecile van Schalkwyk (Regsgeleerdheid); en Susan Mellows (Teologie).

 
  • Selfoongebruikers klik hier vir die video.

'n Toekenning vir uitnemendheid in Gemeenskapsinteraksie is aan Tafadzwa Girupira verleen, terwyl Lize-Marie Doubell, Lee Baatjies, Melt Hugo, Khensani Hlongwane en Gideon Basson almal vir uitnemendheid in leierskap beloon is.

Ook onder die ontvangers was die Paralimpiese atleet Dyan Buis en die Olimpiese atleet Justin Palframan wat met die Rektorstoekenning vir Uitstekende Sportprestasie vereer is.

'n Spesiale rektorstoekenning is aan Anita Engelbrecht verleen. Engelbrecht ly aan spastiese diplegie (dubbelsydige verlamming) en is haar lewe lank 'n rolstoel. Sy is voortydig gebore en die deel van haar brein wat die ontwikkeling van motoriese funksies beheer is weens'n suurstoftekort aangetas.  

“Dit is vir my fantasties om erkenning te ontvang vir al die bloed, sweet en trane wat in my studies gegaan het. Dit is vir my ʼn voorreg om ʼn verskil in die samelewing te help maak," het Engelbrecht gesê.R3_preview.jpeg

Die Studenteraad het die gasspreker dr Nondumiso Mzizana as ontvanger van die Toekenning vir Uitsonderlike Alumnus aangewys.

Mzizana het in haar toespraak die studente gelukgewens en aangemoeding deur haar lewenslesse met hulle te deel.

“Julle moet passievol wees oor dit wat julle doen. Julle moet daarvan hou. Julle moet in julleself glo en taai wees."

“Werk hard en moet nooit ophou op meer te leer nie," het sy bygevoeg.

In sy boodskap van gelukwensing het die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, studente vir hul harde werk geloof.

“Fokus, toewyding en deursettingsvermoë lê agter elke prestasie. Dit is die belangrike komponent van dit wat vanaand hier erken word. Onthou hierdie les, veral in moeilike tye, en julle sal ver kom in die lewe."

De Villiers het die studente daaraan herinner dat uitnemendheid vir die US uiters belangrik is.

  • Klik hier vir die volledige lys van studente wat vanjaar Rektorstoekennings ontvang het.
  • Klik hier vir foto's van die geleentheid.

Hooffoto: Prof Wim de Villiers saam met van die studente by die toekenningsgeleentheid.

Foto 1: Nomzamo Ntombela, voormalige SR-voorsitter, prof Wim de Villiers, en Dr Nondumiso Mzizana, by die geleentheid. Fotograaf: Hennie Rudman